STILBAAI NUUS - Om 'n positiewe groei te toon midde die Covid-19 pandemie, wil gedoen word - maar dit is presies wat Stilbaai Toerismeburo vermag het.
Dries de Beer, voorsitter het tydens hul algemene jaarvergadering op Dinsdag, 27 Oktober gesê die totale oorsese besoekers aan die buro vir die jaar was 458 teenoor 379 die vorige jaar.
Plaaslike besoekersgetalle het bietjie afgeneem, maar hulle het steeds amper 5 000 mense ontvang.
"By Palinggat-museum en die fontein waar die palings gevoer word, het ons 2 557 volwassenes ontvang teenoor die vorige jaar se 2 306 en 913 kinders teenoor die vorige jaar se 583. Die inkomste uit die voer van palings het met 3% toegeneem," het De Beer gesê. Die toerismeburo het ook 'n nuwe webblad op WordPress. Gedurende die jaar is heelwat akkommodasie fasiliteite geakkrediteer en tot op datum is 38 eenhede reeds suksesvol geakkrediteer.
Tydens sy finansiële verslag het De Beer beklemtoon dat die finansies van die buro onder druk bly en hy versoek lede om hul ledegeld te betaal. Die jaar is met 218 lede afgesluit en ledegeld het met 16% toegeneem.
"Verkope uit die Kontrei-winkel het ook met 27% toegeneem na die hernuwing van die winkel en die buro se totale inkomste het 'n 39% groei getoon, waarvoor ons baie dankbaar is," het hy sy verslag afgesluit.
Onder algemene sake wat bespreek was, is die voorstel om die toerismeburo as 'n nie-winsgewende organisasie te registreer, omdat dit baie voordele inhou.
"Ons is in die finale fase om toestemming te kry vir die oprigting van 'n buitelug gimnasium op die gras by Lappiesbaai, soortgelyk aan die een by die mond. Die totale koste vir die oprigting behoort ongeveer R70 000 te beloop," het De Beer verduidelik. Ten einde dit te finansier gaan spasies vir advertensieborde opgerig word. Tentatiewe koste daarvoor sal R4 500 vir 'n bord van 400x400 en R1 500 vir 'n bord van 200x200 beloop. Belangstellendes kan vir Adolf Botes (028 754 1655) of die toerismekantoor (028 754 2602) kontak.
Hoewel die buro gewoonlik slegs twee oorkondes per jaar vir positiewe bydrae tot toerisme in Stilbaai oorhandig, het hulle vanjaar 'n uitsondering gemaak en aan die drie plaaslike olyfplase toegeken, naamlik Kleinbergskloof, Oudewerfskloof en Kransfontein wat hierdie jaar toekennings by SA Olive Awards ontvang het.
"Ons is een van slegs drie dorpe in die hele Suid-Afrika waar drie plase toekennings gewen het. Kleinbergskloof is ook as een van die top 10 ekstra suiwer olyfolies aangewys," het De Beer gesê.
Ten slotte is die nuwe bestuur gekies. Twee van die bestuurslede, Johannie Vermeulen en Werner du Toit het bedank en is Elmarie Smit en Adrian Lange in hul plekke voorgestel en aanvaar.
Die volgende lede wie se twee jaar verstryk het, is weer genomineer en herkiesbaar: Danie Gerryts en Laetitia Loots. Die volgende lede het nog 'n jaar oor en is weer verkies: Arrie Combrink, Adolf Botes, Dries de Beer (voorsitter), Riaan Moag, Louise Gerryts, Annerise Wolmarans (sekretaris).
Sonja Pocock (Oudewerfskloof Olive Farm), Hennie Volschenk (Kleinbergskloof Olive Estate) en Jacinda Steyn (Kransfontein) spog met hul oorkondes. Foto's: Wilma Adamson
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'