HEIDELBERG NUUS - Truitjie Rall, voorheen van die plaas Koega buite Heidelberg het op 18 Mei vanjaar die ouderdom van 101 jaar behaal. Presies ’n maand later, op 19 Junie, sterf sy.
Tannie Rall is as die oudste vrou in die Heidelberg-distrik beskou.
Nadat sy van Caledon as jong bruid van Piet Rall op Koega aangekom het, het sy vir 84 jaar in die distrik gebly, die meeste van al daardie jare op die plaas. Na haar man se dood het sy op Koega aangebly en alleen geboer, want sy het geglo sy is ’n boer in murg en been. Op ’n kleiner plasie, wat sy later gekoop het, het sy met druiwe begin boer. Hierdie boerdery het tot haar ere-lidmaatskap van die KWV gelei.
Haar laaste jare het sy in die tehuis, Onse-Rus op Mosselbaai deurgebring. Jenny Vorster van Heidelberg is ’n susterskind van tannie Rall en het haar peetma beskryf as ’n wonderlike goue oue, wat op haar gelukkigste was tussen die diere op haar plaas. Haar suster, Meisie Olivier is ook in dieselfde tehuis en is 91 jaar oud.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'