RIVERSDAL NUUS - Die afsterwe van Rosetta Eksteen (82) op Maandag 6 Augustus is 'n groot verlies vir die gemeenskap. Haar familie het haar Rose genoem en die pasiënte by Riversdal TB-hospitaal 'nurse' Rose.
Die tuberkulose-hospitaal open op 1 April 1957 met suster Sophia Melando as hoof van die inrigting. Haar hulpverpleegsters was Rose Eksteen en wyle Hettie Veldsman. Die hospitaal, geleë in die gebou wat vandag deur Bollie Konyn-kleuterskool gebruik word, sorteer onder die afdelingsraad van Riversdal.
Met die sluiting van die hospitaal begin die personeel op bussies te werk wat as mobiele klinieke dien. Daarmee word die landelike inwoners met basiese primêre gesondheidsorgdienste bedien. Rose se kollegas was susters Van As, Saayman en wyle Rosett Naude.
By die hospitaal het sy 'n behoefte opgemerk en begin sy om die pasiënte met tee te bedien. Die welwillendheidsgebaar was instrumenteel daarin dat gemeenskapsleier en oudskoolhoof, wyle Norman Hendricks, later 'n senior burger-groep stig, bekend as die Sleeping Beauty bejaardegroep.
Rose gaan in 1995 op pensioen en word die familiewoning in Barrystraat se tuin deur haar in 'n lushof omskep. In die huis leef sy haar liefde vir antieke meubels en kunswerke uit. Op kerklike vlak was sy 'n aktiewe lid van St. Andrew's Anglikaanse kerkkoor.
Sy sluit later as lid van die Droom bejaarde klub aan. As gevolg van demensie verhuis sy in 2016 na die Vermont-ouetehuis op Knysna.
Haar begrafnisdiens het Saterdag 11 Augustus vanuit St. Andrews Anglikaanse Kerk plaasgevind. Die diens was deur eerw. Noel Weber gelei. Sy word oorleef deur een suster, oudmatrone Frank Jacobs van Somerset-hospitaal, seun Mendell, skoondogter Jacky en kleinseun Tyronne Eksteen.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'