RIVERSDAL NUUS - Hazel Cupido, oudmatrone van Riversdal-hospitaal, is op Vryheidsdag 27 April oorlede.
Jonathea Hazel Goliath is op 7 Oktober 1955 op Ceres gebore. Sy is op Riversdal aangestel na haar voorganger, matrone Martha Jordaan op 23 September 1998 afgetree het.
Cupido, wat aan haar personeellede as mevrou en die gemeenskap as matrone bekend was, het die pos met nederigheid en empatie teenoor haar pasiënte beklee.
As trotse lid van die Anglikaanse kerk het sy die Here as haar Skepper in die St. Andrews-kerk gedien.
Die hospitaal is tydens haar dienstydperk opgradeer. Die nuwe ambulansbasis is op 31 Maart 2008 geopen en die nuwe administratiewe blok is in dieselfde jaar betrek.
Tydens haar dienstydperk het die hospitaalpersoneel jaarliks 'n verpleegstersbal as fondsinsamelingsprojek gereël en Cupido het haarself op dié belangrike geleentheid op die hospitaal se sosiale kalender op die dansbaan geniet. Sy het op 30 Oktober 2015 op 60-jarige ouderdom uit diens getree en sy en haar dogter Arlene het haar aftrede saam geniet.
Begrafnisreëlings was teen saktyd nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'