HESSEQUA NUUS - Maandag 6 Februarie het verskeie aardbewings Turkye en Sirië getref. Soos almal weet, het duisende mense hul huise en al hul besittings verloor.
Baie kinders is met niks gelaat. Wat doen 'n kind as hy bang en alleen voel? Hy hou sy teddiebeer styf vas!
Die kinders van die NG Kerk, Albertinia wil daardie kinders wat alles verloor het, 'n teddiebeer gee om aan vas te hou in die bang en onseker tyd.
Dié kinders daag alle hoërskole, laerskole, universiteite, kerke se jeuggroepe regoor Suid-Afrika uit om deel te neem en soveel as moontlik splinternuwe teddiebere in te samel wat vir hulle gestuur sal word.
"Weens Covid en streng reëls in ander lande, wil ons alles uit die weg ruim sodat die teddies veilig in die kinders se hande beland sonder enige oponthoud" het Elriza Coetzee, organiseerder gesê.
Die doelwit is om 100 000 teddiebere in die begin van April na die kinders te stuur. Die teddiebere moet tussen 15 en 30 cm groot wees en moet nie enige tipe diere soos byvoorbeeld leeus wees nie.
Suid-Afrika, as jou hart so aangeraak is soos die Albertinia-kinders s'n, en jy wil ook graag die kinders help, maak 'n plan en koop 'n teddiebeer vir 'n kindjie wat alles verloor het.
Jy kan ook jou deel gee deur in te skryf vir die avontuurdag wat 25 Maart op Bon Game Privaat Reservaat gehou sal word. Toegang is gratis, maar daar is wel kostes vir die pretstap en staproete vir die meer gevorderde stappers.
Verskeie aktiwiteite sal aangebied word soos speletjies, skattejag en 'n springkasteel. Die pretstap begin om 09:00 en gevorderde staproete begin om 08:30.
Vir meer inligting skakel Elriza Coetzee by 064 379 3024 of besoek die Facebook-blad: Teddies for Turkey with love from SA.
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'