STILBAAI NUUS - Kinders wat oogprobleme het, gaan waarskynlik nie skool toe nie omdat hulle nie goed kan sien nie.
Dit is volgens Alison Bryant, voorsitter van Stilbaai gemeen-skapspolisiëringsforum (GPF). Dié forum en 'n nuwe oogkundige praktyk in die dorp het hande gevat om die kinders van Melkhoutfontein Primêr in die skool te hou.
Hulle het besluit om soveel as moontlik leerders, met hul ouers se toestemming, se oë te toets en waar moontlik te help met 'n gratis bril.
Die skoolhoof, Ruby Flores het die projek ten volle ondersteun en die twee oogkundiges het 343 leerders by die skool getoets. Uit daardie groep is 19 leerders deur hulle na die praktyk geneem vir 'n volledige oogtoets en brille is vir vier leerders voorgeskryf.
'n Paar leerders is ook met probleme geïdentifiseer wat hulle nie kon oplos nie en vir daardie gevalle is verwysings gegee.
Bryant het gesê dat die hoofdoel van die projek was om te verseker dat die leerders nie die skool verlaat omdat hulle oogprobleme het wat nog nie voorheen opgemerk is nie.
"Hoe meer kinders skool suksesvol voltooi, hoe minder kinders sal hulle tot misdaad en dwelms wend."
Vir enige navrae oor Stilbaai GPF kan Bryant gekontak word by 062 681 7091.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'