Update
STILBAAI NUUS - Die stormwind van Saterdag 29 Julie het die NG Kerk in Stilbaai se kerktoring met minagting behandel en 'n gat in die middel gelaat.
Dit het die kerkraad genoop om die eredienste van Sondag af te gelas en ds. Vian Louw se preek via 'n videoskakel na die gemeente te bring.
Die PVC-panele het gestrooi gelê op die kerk se grasperk en die straat moes gesluit word. Die twee leraars, Vian Louw en Francois Taljaard, was vinnig op die toneel en so ook Annette Matthee, bouinspekteur van Hessequa-munisipaliteit.
Hessequa se skoonmaakspan was ook blitsig daar om die straat skoon te kry. Gelukkig het die staalstruktuur aan die binnekant van die toring sy man gestaan en SBA Suid-Afrika, wat die toring opgerig het, sal nou die situasie evalueer en besluit op die beste opsie om dit te herstel.
'n Ingenieur sal ook die situasie evalueer en heel moontlik sal dit veilig wees om Sondag 6 Augustus weer erediens te hou.
SBA Suid-Afrika het die toring in 2022 kosteloos opgerig en hulle is dan ook verantwoordelik vir die herstel en onderhoud daarvan. Die ooreenkoms met die kerkraad is dat hulle aan die binnekant spasie uithuur aan selfoonmaatskappye om hulle kostes vir die oprig en onderhoud te dek en verhaal.
Huis Stilbaai het ook deurgeloop en 'n groot koelteboom in die binneplaas het omgewaai. Gelukkig was daar geen beserings nie en die enigste ooglopende skade is die plaveisel om die boom wat gelig het.
Die boom kan ongelukkig nie gered word nie en Inus Brooks het aangebied om dit verniet op te saag.
Die gate wat geruk is in Stilbaai NG Kerk se kerktoring.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’