Update
JONGENSFONTEIN NUUS - Die wegholbrand wat laatmiddag Woensdag 19 April tussen Jongensfontein en Stilbaai ontstaan het, is vermoedelik deur 'n sigaretstompie veroorsaak.
Bykans 10 ha is vernietig en baie skilpaaie het doodgebrand. Stormsterk winde het brandbestryders se taak bemoeilik en vrywilligers moes help om die vuur onder beheer te kry.
Charl Wade, streekbestuurder van Southern Cape Fire Protection Association (SCFPA) het gesê: "Dit wil voorkom of dit 'n sigaretstompie was wat die brand begin het. Die kooltjie het moontlik nie gevrek nie en met die wind wat dit sou aanhits is daar 'n sterk vermoede dat dit die padreserwe aan die brand gesteek het. Die brand het vandaar versprei."
Wade het bevestig dat 'n lid van die publiek eerste op die toneel was en dit aangemeld het. Eckard Nel van Stilbaai is moontlik dié flinkdinker en is deur die gemeenskap vir sy opmerksaamheid bedank.
"Ongeveer 800 m voor die huise by Stilbaai is die vuur gestop - Bessiestraat gedeelte, maar met die stormwind het die vuur baie vinnig in die rigting van die huise op Stilbaai en Fisantekraal versprei," het Wade gesê.
Hy het bygevoeg dat die ligte reënbui wat later uitgesak het, sonder twyfel gehelp het om die brand te blus.
Die adjunkhoof van Hessequa-brandweer, Frikkie Muller het gesê: "Brandweerpersoneel was op toneel deur die loop van die aand om enige opvlammings te monitor. Die brand het ongeveer 16:00 ontstaan en is ongeveer 19:00 geblus en onder beheer gebring.
"Hessequa-brandweer, Eden-brandweer, Working on Fire en SFPA was op die toneel en daar was ook vrywilligers wat gehelp het. Ongeveer 27 personeel en vyf voertuie is ontplooi."
Muller het die gemeenskap gewaarsku om nie sonder 'n brandpermit te brand nie.
Die nodige aansoeke kan by Muller by Hessequa-beskermingsdienste verkry word en sal binne die munisipale verordening en riglyne uitgereik word.
Wade en Muller versoek die publiek om nie sigaretstompies by voertuie uit te gooi nie.
Muller voeg by: "'n Enkele sigaretstompie kan verwoesting saai en ernstige ekonomiese skade aanrig. Elkeen van ons dra die verantwoordelikheid om brande te voorkom en ons paaie veilig te hou."
Lees 'n vorige artikel: Sigaretstompie dalk oorsaak van brand
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'