Update
STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-polisie het die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders op Donderdagaand, 24 November, met 'n byeenkoms in Melkhoutfontein begin.
Die doel van die veldtog is om geweld teen vroue en kinders in die gemeenskap aan te spreek en te voorkom.
Sers. Chrissie Lewaks wat die byeenkoms gereël het, het alle uniformdraers, kerke, skole en NRO's genooi om hande te vat met die polisie in die geveg teen geslagsgebaseerde geweld in die gemeenskap. "Hierdie bose sirkel moet nie gestop word nie, dit moet gebreek word."
Lewaks sê dat die meeste geweld binne gesinne is en sy vra mans om die regte boodskap uit te dra met hulle optredes. "Mans moet ook daar waar hulle ook al is hulself vra of hulle kinders iets het om te eet, of hulle kinders warm is en of hulle kinders veilig is."
Vir Hessequa se hoof van verkeer, Ronald Rossouw, gaan dit oor liefde en respek. "Liefde vir jouself en jou medemens en wedersydse respek."
Hy haal aan uit Romeine 8 en sê dat as jy die pad stap met God jy nie verkeerd kan gaan nie. "God is vir ons, wie kan dan teen ons wees?"
Belinda Wagenaar, 'n geliefde onderwyseres by Melkhoutfontein Primêr, vertel met heimwee hoe veilig Melkhoutfontein in haar kinderdae was. Hulle kon snags sonder vrees in die strate rondstap. Sy was na skool vir 25 jaar weg en toe sy terugkom was alles anders. Daar was geen wedersydse respek nie. Die gemeenskap het die waarheid begin verdoesel en stap eerder weg as vroue en kinders mishandel word.
Pastoor Jonathan Kleinhans sê die Here rig jou voetstappe en jy moet eers honderd persent lief wees vir jouself voordat jy honderd persent lief kan wees vir jou naaste.
Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer, sê dat Stilbaai, Jongensfontein en Melkhoutfontein een gemeenskap is en dat die gemeenskap moet vasklou aan die waardes waarmee hulle grootgeword het.
Renee Davids, wyksraadslid van Hessequa-munisipaliteit, sê dat hy en almal om hom met respek grootgeword het. "Dit het weggeval en dit moet terugkom. Respek in die huis en respek in die gemeenskap. Dit is elke individu se plig om 'n verskil te maak."
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'