HEIDELBERG NUUS - Al ooit gehoor van 'n biblioteek waarin daar gesing en gekuier word?
Hierdie was verseker 'n eerste keer vir Aletta Sutherland, gaskunstenaar en korrespondent vir Suid-Kaap Forum om gaste met sang in 'n biblioteek van alle plekke te vermaak. Die personeel het dit goed gedink om Vrouedag reeds op Dinsdag 8 Augustus te vier, aangesien die biblioteek op die amptelike Vrouedag (Woensdag) gesluit was.
Besoekers is met 'n koppie koffie, tee en 'n soetigheidjie bederf.
'n Kragonderbreking het die klawerbordbegeleiding onderbreek en moes Sutherland a cappella sing. Luisteraars is aangemoedig om saam te onthou en daar is gesing oor liefde, hartseer, nuwe seisoene, dood, verlange en blydskap. 'n Plaaslike inwoner Jan Nel, se pragtige gedigte is deur Sutherland getoonset en ook vir die eerste keer voor 'n gehoor gesing.
Een van die gaste Ella Badenhorst, het gesê dat die kragonderbreking 'n groot seën was. "Ek het meer na die liedjies se woorde opgelet en dit was vir my baie mooi." Leféber Uys het almal vir die heerlike vermaak en die goeie werk wat die personeel doen bedank.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'