STILBAAI NUUS - Stilbaai Sakekamer het Donderdag, 29 Oktober ‘n suksesvolle geleentheid waar die bekende avonturier, Peter van Kets as gasspreker opgetree het, aangebied.
Ongeveer 180 gaste het die geleentheid bygewoon, wat besoekers van George, Mosselbaai, Riversdal en Heidelberg ingesluit het. Grant Riddles, uitvoerende burgemeester het die verwelkoming behartig.
Die voorsitter, Rachel Wall het gesê 2020 sal onthou word as ‘n jaar van vele uitdagings en nuwe ervarings.
Sy het Langenhoven aangehaal: “Die wêreld die draai, nou is hy vriendelik en dan is hy kwaai; Vandag is hy soet en more weer suur; geen blydskap hou stand en geen droefheid duur.”
Sy het bygevoeg dat, wanneer ons terugkyk, dit ‘n jaar van soet en suur, droefheid en blydskap was. “Ons was almal vol planne en verwagtings in die begin van die jaar en niemand het gedink aan die moontlikheid van ‘n pandemie en hoe dit ons lewens gaan affekteer nie.
“Die afgelope sewe maande was seker een van die moeilikste tye om ‘n besigheid te besit, maar ten spyte van die aanslae gedurende hierdie afgelope tydperk het julle nie handoek ingegooi nie. Baie van u het vinnig na die digitale ruimte oorbeweeg, ander het met kreatiewe maniere te voorskyn gekom om sake te doen, ten spyte van al die beperkings.”
Wat volgens Wall spesiaal en uniek is, is met hoeveel deernis besigheidseienaars hul personeel behandel het. Van die groter ondernemings het na die kleiner ondernemings op verskillende manier uitgereik, hetsy dit deur die oorneem van voorraad en personeel, rakspasie of die vryskelding van huurgeld was.
“Ons is so trots op Stilbaai sakegemeenskap en salueer ieder en elkeen van u.”
Riddles het sake-eienaars bedank dat hulle hul werknemers tydens die hoë vlakke van inperking steeds betaal het. “Ons as munisipaliteit probeer altyd die beste klimaat skep waar besighede kan floreer en party dae is dit nie so maklik nie, maar meeste van die tye kry ons dit reg.”
Volgens hom, voor die Covid-19 pandemie was die werkloosheid in Hessequa die laagste in die land, naamlik 7% . “Dit is as gevolg van werkskepping deur besighede,” het hy afgesluit.
Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer. Foto’s: Richard Webb
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'