STILBAAI NUUS - Die Stilbaai Kwilters is 'n klomp kreatiewe vroue wat jaarliks die mooiste kwilte optower.
Gemeenskapsprojekte is egter ook hoog op hul prioriteitslys. Elke jaar word 'n kwilt uitgeloot en die fondse wat hierdeur ingesamel word, word met groot vreugde en geesdrif weer in die gemeenskap teruggeploeg.
Vroeër die jaar is 'n donasie aan SAM geskenk. SAM is 'n organisasie wat waardevolle Samaritaan-werk oor 'n wye spektrum in die Stilbaai-gemeenskap doen.
Die kwilters het vir die eetsaal in die siekeboeg van Huis Stilbaai twee stelle tafeldoeke en veelkleurige tafelkleedjies gemaak. Vir Huis Alrema is 15 enkelbed- en skootkwilte geskenk.
Drasakke is ook vir mastektomie pasiënte in Eden Onkologie in George gemaak tydens een van die Stilbaai Kwilters se maandvergaderings.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’