STILBAAI NUUS - Stilbaai-gemeenskaps-polisiëringsforum (GPF) het Donderdag 27 Julie 'n imbizo in die Stilbaai-gemeen-skapsaal gehou.
Die doel was om die gemeenskap oor hulle werksaamhede en ook hulle doelwitte in te lig. Dit was ook die geskikte geleentheid om die ander rolspelers 'n geleentheid te gee vir terugvoering aan die gemeenskap.
Ten spyte van die koue het sowat 40 mense opgedaag, maar die breër gemeenskap bly apaties en mis dus 'n gulde geleentheid om op hoogte te kom van misdaadbekamping in en om Stilbaai en ook die geleentheid om vrae te vra.
Gemeet aan die res van die land is Stilbaai nog maar hierdie vreedsame veilige dorpie, maar dit kook ook maar in die laatnagure.
Alison Bryant, voorsitter van Stilbaai GPF, het begin deur net weer die doelwitte van die GPF te beklemtoon.
Die kamerabeheerkamer by die polisie nader sy ingebruikneming en dit sal aanvanklik beman word deur vrywilligers wat die kameras gaan monitor. Daar is tans 49 kameras waarvan 17 motors se registrasienommers kan lees. Hierdie kameras is versprei deur die hele Stilbaai-distrik en die einddoel is om 70 kameras ontplooi te hê.
Die radionetwerk moet in staat wees om selfs tydens beurtkrag operasioneel te kan wees. Al die koördineerders en die polisie is in verbinding met hierdie radios.
Die buurtwagte van Jongensfontein en Melkhoutfontein is in die finale stadium om amptelike geregistreerde buurtwagte te wees.
Daar word gekyk na die opgradering van die polisiestasie en aparte toiletgeriewe vir die hof. Tans gebruik hofgangers die polisiestasie se toilette.
Die Melkhoutfontein-gesinspark is ook iets wat die GPF graag van die grond af wil kry. Dit sal gesinne die geleentheid gee om saam tyd in die buitelug te spandeer.
Alison vertel dat hulle met Project Grow poog om in samewerking met die polisie sosiale misdaad aan te spreek. Hier kyk hulle na werkloosheid en armoede, die jeug, dwelm- en alkoholmisbruik, huishoudelike- en gesinsgeweld, matrikulante en vaardigheidsopleiding en dan ook die lot van bejaardes.
Archie van Dyk van die Stilbaai Sekuriteitsnetwerk gee terugvoer oor die beheerkamer en kamerastelsel.
Om die beheerkamer operasioneel gereed te hê, benodig hulle nog ongeveer R20 000. Verder kort hulle nog kantoor-stoele, 'n hardeskyf vir die rekenaar, kasdeure, bedrading en kombuistoerusting. As iemand dalk van die items het wat hulle nie gebruik nie, sal hulle dit met graagte ontvang.
Archie sê dat dit ongeveer R34 000 kos om 'n kamerapunt te installeer. Maandelikse koste beloop sowat R200 per kamera vir die lisensie en R250 per maand vir die internet. Dit is dus R450 maandeliks per kamera.
Adjudant-offisier Morné D'Emiljo het misdaadstatistieke aangehaal waar kontak- en eiendomsverwante misdaad, wat oor die afgelope ses maande gemeet is, gestyg het.
Die ander tipes misdaad het 'n daling getoon. Vir die kwartaal was die tendens presies dieselfde, maar die afgelope maand het alle misdaad 'n daling getoon.
Die afgelope jaar het Stilbaai-polisie 98 onwettige immigrante gearresteer en hulle is almal gedeporteer. Inwoners en werkgewers kan baie help om nie vir die onwettige immigrante werk te gee nie selfs al is dit net vir 'n dag.
Beskerm jouself en dring aan op identifikasiedokumente en werkspermitte. Dit is 'n misdryf om sodanige werkers in diens te neem.
Frikkie Muller, hoof van wetstoepassing in Hessequa-munisipaliteit het gesê dat sy afdeling teen einde 2023 oor nege permanente wetstoepassers sal beskik waarvan twee permanent in die Stilbaai-omgewing gaan wees. Hy het ook 17 vredes-beamptes, maar hulle het nie dieselfde magte as wetstoepassers nie.
Gegewe die terugvoer van al die rolspelers tydens die imbizo is dit duidelik dat daar waar die gemeenskap hande vat met wetstoepassing, dit veilig is om te woon. Die gemeenskap speel 'n baie belangrike rol om sy omgewing veilig te hou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’