Update
HEIDELBERG NUUS - 'n Vyf-en-veertig-jarige man van Heidelberg is Vrydagaand net na 22:30 dood toe hy na bewering deur sy 22-jarige stiefseun met 'n mes gesteek is.
Die oorledene, Johan White, pa van drie kinders, is glo na 'n stryery met die verdagte buite voor sy slaapkamervenster twee keer met 'n okapi-knipmes in die linkerbors gesteek.
Die voorval het op 'n plaas in die gebied bekend as 'Die Plotte' plaasgevind.
Volgens ao Alroy Windvogel, plaaslike polisie kommunikasiebeampte het van die familielede die stryery buite gehoor. "Volgens een van die getuies het die verdagte die mes ewe kalm aan een van hulle gegee toe hulle buite op die toneel kom."
White se saamleefmaat, Selina Makamu vertel hartseer dat hoewel White nie haar oudste seun se biologiese pa was nie, hy hom as sy eie aanvaar en grootgemaak het.
"Ek is baie kwaad vir Sipho omdat hy so iets gedoen het," het sy gesê terwyl sy hulle jongste dogter, Sarafina styf teen haar bors vasgedruk het.
White laat nog 'n dogter, seun en een kleinkind agter.
Windvogel het bevestig dat 'n klag van moord ondersoek word.
Sipho Makamu (22) is op vryborg vrygelaat en gewaarsku om weer op 4 Mei in die hof te verskyn op aanklag van moord.
Volgens die landdros is hy vrygelaat aangesien hy geen vorige kriminele oortredings teen hom het nie. Hy het ook nie van die toneel probeer vlug na die voorval nie en het sy volle samewerking tydens die ondersoek gegee. Hy hou ook nie 'n vlugrisiko in nie.
Wyle Johan White
Vorige artikel: Stiefpa sterf na messteek
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'