"Met bitter min middele en hulp tot ons beskikking, was dit baie suksesvol," het Sandra Lotz gesê. Dr Hilldidge Beer van Ebervet het die sterilisasie gelei, saam met dr Belinda en plaaslike veearts, dr Deon Schaap was die doring tussen die rose.
Hierdie gedugte span het altesaam 126 diere gesteriliseer. Volgens Lotz was daar gelukkig geen ongevalle nie, dus is dit puik resultate vir die twee baie bedrywige dae. "Ongelukkig was daar een hondjie wat uitgesit moes word, aangesien hy katgriep in 'n baie gevorderde stadium gehad het".
"Ons vrywilligers het almal hard saamgewerk. Troeteldiere wat ver was is gaan haal en teruggeneem. Die gemeenskap het uitstekend saamgewerk en begin al meer besef dat 'n gesteriliseerde dier minder probleme veroorsaak. Die diere is ook ingeënt.
"Daar was 'n paar mense van die gemeenskap wat met baie oorreding ingestem het om ook hul boerboel- en Pitbull-reune te steriliseer. 'n Paar boerboele wat al 'n hele paar werpsels gehad het is gelukkig ook gesteriliseer," het Sandra duidelik dankbaar genoem.
Volgens haar is die plaaslike gemeenskap steeds nie bewus dat dit onwettig is om sonder die nodige registrasie papiere vanaf KUSA en die toestemming by die munisipaliteit, te teel nie.
"Cars wil graag Hessequa munisipaliteit bedank, asook elke vrywilliger wat gehelp het, naamlik Brain Learmonth, Gert van der Bergh, Ria Thornley, Heidi Bredell, Truly Bester, Lynn en Craig Burger, Jinja Jarmain, Shanine O'Connell, asook die veearts assistente by name Thinus en Magrieta.
"Laasgenoemdes is van onskatbare waarde vir die veeartse. Ons wil ook vir Spar, Monica Jarmain en me Diedericks baie dankie sê vir die verversings vir die twee dae, asook die mense wat handdoeke, komberse en koerante geskenk het. Die gemeenskap het ook elkeen 'n donasie gemaak vir die sterilisasie en inent van sy/haar troeteldier," het Sandra gesê.
'n Eiendomsagentskap het vir die veearts geskenkpakkies gegee, asook vir elke vrywilliger 'n pet en rugsakkie. Shanine O'Connell van 'n plaaslike eiendomsagentskap het haar 67 minute vir die gemeenskap gedoen deur as vrywilliger by die kliniek te werk en die persoon wat in haar plek moes instaan betaal.
"Al die vrywillers het hul werke vir die twee dae gelos om 'n diens aan die gemeenskap te bied. Ons soek meer sulke mense," het Sandra gesê.
Die volgende sterilisaie- en inentingskliniek sal op 25 en 26 Augustus aangebied word.
Van links voor is dr. Hilldidge Beer (senior veearts), dr. Belinda, Hilda (veeartssuster) en agter is dr. Deon Schaap.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'