RIVERSDAL NUUS - Bosslapers, karwagte en bedelaars is ’n yslike kopseer wat indringend bespreek is tydens die pas afgelope vergadering van Riversdal se gemeenskapspolisieforum (GPF).
Die bespreking het uitgeloop op ’n besluit om die munisipaliteit skriftelik te versoek om die ou stasiegebou beskikbaar te stel as ’n nagskuiling en betrokke te raak by ’n projek om die haweloses van die dorp te versorg.
Die droom is om die ou stasie op te knap en te omskep in ’n model van hoe die probleem van haweloses hanteer kan word. Sprekers het op die talle probleme gewys wat kan ontstaan as die projek nie goed bestuur word nie.
In hul kommentaar het Hessequa-munisipaliteit se mediawoordvoerder, Didi Budricks gesê dat enige voorstel van ‘n gemeenskapsorganisasie, soos die GPF, ondersoek sal word en byvoorbeeld in samewerking met die departement maatskaplike ontwikkeling ondersteun word.
“Die munisipaliteit handhaaf uitstekende inter-regeringsverhoudinge met ander staatsorgane en so ‘n projek is in lyn met die raad se GOP. Die finansiële uitgawe verbonde aan ‘n nagskuiling sal egter deur die betrokke provinsiale en nasionale staatsdepartement gedra moet word wie se grondwetlike funksie dit is.”
Die vergadering, onder voorsitterskap van Harry Stroebel is goed bygewoon deur verteenwoordigers van die polisie, verkeersafdeling, buurtwagte, sakekamer en ander rolspelers.
Raadslid Betsie van Noordwyk, pas verkose munisipale raadslid het die vergadering namens die raad bygewoon.
Ander knelpunte wat onder meer bespreek is, is opvolgaksies na verdagte waarnemings en koördinering van die verskillende kamerastelsels; die was van motors en swemmery by laagwaterbruggies, asook die behoefte wat bestaan om sekere plaaspaaie saans af te sper.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa, Karoo nuus'