RIVERSDAL NUUS - Die stil dorpie gaan dié komende naweek behoorlik uit sy nate bars met sowat 1 600 laerskoolleerders wat hier gaan toesak om aan Laerskool Volschenk se jaarlikse Superspar-sportnaweek deel te neem.
Die getalle sal aansienlik groei met familielede, onderwysers en ondersteuners wat ook die rugby- en netbalwedstryde kom bywoon.
Naas Hoër Landbouskool Oakdale se groot rugbyweek, is die Superspar-naweek die grootste sporttoernooi wat jaarliks in Hessequa aangebied word.
Dis die 20ste keer wat Spar die ankerborg van dié toernooi is. "Dis 'n groot voorreg vir ons om iets in die gemeenskap terug te ploeg," sê André van Wyk, eienaar van Riversdal Spar.
"Nie net is dit 'n gesonde ekonomiese inspuiting vir plaaslike besigheidseienaars en gastehuise nie, maar ook 'n wonderlike geleentheid om Riversdal en dit wat die dorp en omgewing bied aan besoekers ten toon te stel. Dit kan straks mense oorreed om in ons mooi dorp te kom aftree of hul kinders na ons skole te stuur."
Altesame 23 skole vanuit die Kaap, Tuinroete, Hessequa en selfs so ver as Plettenbergbaai gaan in aksie wees. Verlede jaar het 13 skole deelgeneem, maar die belangstelling is so groot dat die organiseerders besluit het om die getal skole amper te verdubbel.
Dit plaas uiteraard groot druk op Laerskool Volschenk se sportgeriewe en daarom word van die rugby- en netbalwedstryde Saterdag ook by Hoërskool Langenhoven gespeel.
Die toernooi begin vanmiddag om 13:30 by Laerskool Volschenk en duur tot om ongeveer 20:00.
Alle wedstryde begin Saterdag om 08:00, by beide Volschenk en Langenhoven, en sal teen ongeveer 16:00 ten einde loop.
Toegang is R20 vir volwassenes, maar kinders van 18 jaar en jonger kom gratis in.
Vanaand word 'n steakete en dans by die skouterrein teen R200 per persoon aangebied. Vir kinders is daar 'n burger en skyfies vir slegs R65.
Kaartjies vir vanaand se ete is aanlyn te koop of by Riversdal Spar of Laerskool Volschenk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’