Update
HESSEQUA NUUS - Altesaam 11 899 leerders was Vrydag 17 Januarie by skole in die streek ingeskryf, maar die getalle sal eers op dag 10 na opname geverifieer kan word.
So sê Mias du Plessis, kringbestuurder van Kring 1 van die Eden en Sentrale-Karoo onderwysdistrik van die Wes-Kaap onderwysdepartement.
Volgens hom is daar tans 1 162 graadeens en 995 graadagts ingeskryf. Dié getalle is soos dit tans op die stelsel aangedui is.
Daar is agt hoërskole, twaalf laerskole, agt multigraadskole en drie privaatskole in die streek. "Slegs vyf WKOD-skole in die streek hef skoolfondse, terwyl die res gratis onderrig ontvang," sê hy. "Altesaam 21 skole is op die nasionale voedingsprogram en 6062 leerders kry tans daagliks kos by die skool."
Volgens Du Plessis is daar een geregistreerde kleuterskool met 89 leerders wat op die stelsel ingeskryf is. Dié skool ontvang 'n subsidie van die departement en word deur die vakadviseur van raad en hulp bedien.
Hy het nie getalle van hoeveel speel- en bewaarskole daar in die streek is nie en daar is nog geen terugvoer op 'n navraag aan die departement van sosiale ontwikkeling hieroor ontvang nie.
Suid-Kaap Forum het verlede week 'n fotobeeld van die graadeens by sommige skole gegee en die week tevore verslag gedoen oor die 2019-matrieks se uitslae:
Debbie Schafer, Wes-Kaap minister van onderwys, het kort na die bekendstelling van die matriekuitslae gese die provinsie neem ook ander faktore in ag wanneer prestasie gemeet word.
Volgens haar is een van die provinsie se grootste fokuspunte om leerlinge in die skoolstelsel te behou. Dit beteken leerlinge wat inskryf vir gr. 10 moet uiteindelik matriek slaag. Sy sê in dié opsig het die Wes-Kaap die hoogste sukseskoers met 64% van gr. 10's wat gr. 12 slaag. Volgens haar is daar ander provinsies waar amper 60% van die leerlinge wat nie die paal haal nie en uit die skoolstelsel verdwyn.
Lees 'n vorige artikel: Bykans 12 000 leerders in streek ingeskryf
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'