Update
STILBAAI NUUS - Die Stilbaai-musiekvereni-ging het Donderdagaand, 11 Mei, Stilbaai aan die brand gesing met hul Sound of Music-opvoering.
Die musiekvereniging spog met drie kore naamlik die mannekoor, wat al 10 jaar bestaan, die Disa-dameskoor, wat in September 2021 gevorm is, en dan die gemengde koor oftewel die Seisoene Sangers.
Volgens dr. Marietjie Strydom is die gemengde koor basies saamgestel uit die ou kerkkore.
Daar was geen toegangsgeld nie, maar wel 'n sagte kollekte en die mense van Stilbaai het werklik hulle harte en beursies oopgemaak, want al hierdie geld word uitgedeel aan liefdadigheidsorganisasies in en om Stilbaai.
Die gemeenskapsaal was vroegaand al volgepak en toe die Seisoene Sangers open met Sound of Music, met die mannekoor, wat voor in die saal gestaan het, en die res in twee lang rye aan weerskante van die gehoor, was dit duidelik dat hier 'n voortreflike vertoning kom.
Elke koor het die geleentheid gehad om op te tree: die mannekoor onder leiding van die 83-jarige Naomi van Schalkwyk, die dameskoor onder leiding van Anine Fourie, en die Seisoene Sangers onder leiding van die 85-jarige Elize Pienaar. Hier is dit baie duidelik dat ouderdom net 'n nommer is.
Hanlie Lubbe, met daardie ongelooflike operastem, het natuurlik haar deel gedoen en die gehoor in ekstase gehad.
Na pouse het die mannekoor die gehoor op die punte van hulle stoele gehad met I was Born under a Wandering Star. Die dameskoor het ook nie op hulle laat wag nie en gesorg vir lewendige danspassies. Die aand is afgesluit met die Seisoene Sangers se Thank you for the Music en die gehoor het hulle teruggeroep vir The Sound of Music.
Stilbaai-musiekvereniging, onder die bekwame leiding van Mike Steytler, en sy adjunk, Marietjie Strydom, het die gehoor op hul voete gehad en beloof dat die Kerskonsert nog groter gaan wees.
Gemeenskapsaal was vroegaand al volgepak vir Sound of Music.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’