Video
MELKHOUTFONTEIN NUUS & VIDEO - Die Soetefontein Senior Burger-klub van Melkhoutfontein het Woensdag 21 September sommer ver teruggegaan in die verlede om hulle erfenis te vier.
Die saal is opgetower met blikborde en -bekers. Daar was paraffienstofies en selfs 'n ou grammofoon wat dateer uit 1925. Die mense het aangetrek soos in toeka se dae en toe is daar behoorlik feesgevier.
Albert Cloete, voorsitter van die klub het gesê dat die Here hulle geïnspireer het om hierdie klub vir senior burger te stig met die doel om bejaardes, wat miskien eensaam en alleen in 'n huis of kamer sit, bymekaar te bring. Hy het ander bejaardes uitgenooi om deel te word van dié klub.
Raadslid Renée Davids het die teenwoordiges aangemoedig om terug te keer na die waardes waarmee hulle grootgeword het en om hulle erfenis te bewaar. Hy het verder gesê soos in die Bybel moet jy jou vader en moeder eer, maar saam met dit is respek.
"Bring respek terug in die huise en vat eienaarskap in jou huis. As dinge reg loop in die huis gaan dit reg loop in die gemeenskap."
VIDEO: Soetefontein seniors vier Erfenisdag
Die 87-jarige tannie Rosie Barnard was 25 toe sy in Stilbaai van Knysna af beland het. Haar man was 'n konstabel en hulle het in Stilbaai gewoon. In 1964 moes hulle ongelukkig Melkhoutfontein toe trek met 'n maand oue babatjie en het hulle 'n huis op die kerkgrond gekry.
Vir 25 jaar het sy elke dag met 'n fiets na Stilbaai gery vir werk.
Johnny Kleinhans en Albert Cloete besig om vleis oor die kole te braai.
Chrystel Cloete vertel van die talle fonteine om Melkhoutfontein en hoe wasdag daardie tyd gewerk het. "Die wasklip is druk besoek en elkeen moes sy beurt kry." Met heimwee praat sy van die pragtige blom- en groentetuine. Sy vertel van die beesmisvloere en hoe sommige mense selfs patrone op hulle vloere gehad het.
Sy het 'n beroep gedoen op die senior burgers om seker te maak dat al hulle kennis en ervarings na die volgende geslagte oorgedra word.
Daarna is die kosbakke ingebring en kon elkeen smul aan 'n tradisionele braaivleis met pap en sous.
Hulle het ook uitgereik na die volwassenes met gestremdhede van Soeterus wat deel was van die feesvieringe.
Die dansbaan het 'n paar gelok.
Pragtige oudhede met die grammofoon uit 1925 links voor.
'Ons bring jou die nuutste Melkhoutfontein, Hessequa nuus'