HESSEQUA NUUS - Altesaam 436 matrikulante het verlede jaar vir graad 12 by die ses hoërskole in die Hessequa-streek geregistreer. Net drie leerders kon nie hul matriekjaar voltooi en die eindeksamen na twaalf studiejare aflê nie.
Twee dogters het swanger geraak en die ander leerder moes die skool weens huishoudelike omstandighede verlaat.
Vier van Hessequa se skole spog met ‘n 100-% slaagsyfer. Hulle is Hoër Landbouskool Oakdale, Hoërskool Heidelberg, Hoërskool CJ Langenhoven en Hoërskool Albertinia. Hulle word gevolg deur Kairos Sekondêre Skool (97,6) en Gerrit du Plessis Sekondêre Skool (83,6% - met 110 matrikulante wat die eksamen afgelê het; die meeste van die al skole).
Altesaam 83 leerders het onderskeidings behaal en bygedra tot altesaam 235 vak-onderskeidings.
Altesaam 290 leerders het universiteitsvrystelling verwerf. maar In onderwyskringe is daar wel kommer dat ‘n leerder slegs in vier vakke bó 50% en in drie ander net 30% nodig het om aan ‘n universiteit te studeer.
Hoërskool CJ Langenhoven het die beste gevaar met 150 vak-onderskeidings wat deur 46 leerders behaal is aan 86 van die 97 leerders universiteitsvrystelling verleen. By die Hoër Landbouskool Oakdale het twintig leerders gesamentlik 57 vak-onderskeidings verwerf en 74 leerders het universiteitsvrystelling gekry.
Die ander skole het egter nie juis waffers gevaar nie.
“Ons wend alle moontlike bronne aan om ‘n oplossing te vind - met ‘n sterk fokus op belangstelling in ons leerders se leefwêreld, positiewe aanmoediging, omgee en 'n beklemtoning van waardes,” sê Helené Bester, die adjunk-prinsipaal van Kairos Sekondêre Skool.
Die skoolhoof, Trevor Februarie, voeg daaraan toe: “Die ongelykhede is 'n realiteit. Elke skool moet egter met die beskikbare hulpbronne die beste binne hul vermoë doen om die leerders vir naskoolse opleiding en die pad na volwassenheid voor te berei. Ons gee baie aandag aan die ontwikkeling van ons kinders se sosio-sosiale omstandighede.”
Vier van die ses skole toon ‘n toename in gr. 12-leerders vir 2024. Altesaam 462 leerders het geregistreer en toelating gekry.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’