RIVERSDAL NUUS - Suid-Afrika se verouderde padnetwerk is vol gevare met voertuie, diere en voetgangers wat motoriste daagliks beproef. En dan is daar die groterwordende kopseer met slaggate, wat op 'n katastrofe in sekere dele van die land afstuur.
Volgens die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral), is daar na raming 25 miljoen slaggate op Suid-Afrikaanse paaie. Dit is 10 miljoen slaggate meer as in 2017 en dit "teel aan" teen 'n onrusbarende tempo.
Dié aantal slaggate geld slegs vir ons nasionale hoofpaaie, provinsiale paaie en natuurlik dié in groot stede en dorpe. As plaas- en grondpaaie hierby ingereken moet word, sal dit 'n kolossale getal wees wat enige bekwame aktuaris se kop sal laat duisel.
Sanral blameer onvoldoende onderhoud as die enkele grootste rede vir die slaggatkopseer en sê dis 'n bose kringloop wat al dieper gate in owerhede se geldsakke brand, veral as hulle te laat intree en die koste om die skade aan paaie te herstel reeds dramaties verhoog het.
Volgens die departement van vervoer beloop die koste om 'n slaggat te herstel tussen R700 en R1 500 per vierkant meter. Met onvoldoende onderhoud kan die herstelkoste met tot 18 keer styg as 'n volledige rehabilitasie van die pad nodig is.
Slaggate veroorsaak nie net 'n groot ongerief aan padgebruikers nie, maar in ernstiger gevalle kan dit tot noodlottige ongelukke ly.
Kyk mens na die toestand van paaie in Hessequa, en meer spesifiek na die voorkoms van slaggate, kan inwoners hul sterre dank dat die munisipaliteit tot 'n groot mate met hul onderhoudswerk volhou.
Maar die afgelope tyd, veral ná swaar reën, het al meer slaggate oral begin uitspring. Riversdal sit natuurlik met 'n taai toffie in die opsig dat swaar vragmotors Heidelbergweg en Kerkstraat as 'n deurpad deur die dorp moet gebruik.
Maar Heidelbergweg is nog relatief ongeskonde, maar in die omgewing van die Ou Tronk en op pad na die laagwaterbruggie by die steg lyk dinge maar beroerd. Daar is ook heelwat ander strate wat met dié pokmerke bedek is.
Daar is intussen met grootskeepse lapwerk aan dié dele begin en baie slaggate is tydelik met grond en 'n dun lagie teer gevul.
Tot die volgende swaar reënbui neerstort en alles wegspoel.
Na verskeie telefoonoproepe van lesers het Suid-Kaap Forum die Hessequa-munisipaliteit om kommentaar genader om te hoor wat hul planne met die slaggate is.
Deon Lewis-Michaels, bestuurder: regs- en administratiewe dienste, het as volg geantwoord:
"Hessequa-munisipaliteit streef gedurig na goeie dienslewering binne die toegelate diensstandaarde van die raad. Die munisipaliteit is deeglik bewus van die agterstand in terme van die onderhoud op strate wat gelei het tot baie slaggate in die onderskeie dorpe. Die rede vir die agterstand is die swaar reën wat die Hessequa-streek die afgelope tyd ervaar het, met die gevolg dat die instandhoudingsprogram deurlopend onderbreek is.
Daar word jaarliks begroot vir die herstel van strate en stormwater en is die begroting reeds tot op hede meer as 95% spandeer.
"Hessequa-munisipaliteit het 'n volledige herstelprogram wat noukeurig gevolg word en is die probleem areas waar meeste slaggate geïdentifiseer is, geprioritiseer.
"Inwoners word versoek om slaggate aan te meld via die munisipale klagte WhatsApp (071 598 3175). Die munisipaliteit is in die proses met die aanstel van tydelike werkers (eksterne finansiering) om die agterstand so gou as moontlik uit te wis."
Foto's: Unsplash
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'