STILBAAI NUUS - Die 16-jarige Rozaylin Kiewiet, op die sokkerveld bekend as Ronaldo, se pleidooi vir 'n paar sokkerskoene het beslis nie op dowe ore geval nie.
Pas nadat Wilmer Gerber van Stilbaai vir hom 'n paar nuwe blou sokkerskoene geskenk het, het Alexander Panzek van Heidelberg 'n paar rooi sokkerskoene by Suid-Kaap Forum se kantoor vir die kranige jong sokkerspeler kom aflewer.
Ronaldo, 'n leerder by Gerrit du Plessis Senior Sekondêr, se breë glimlag het nog nie opgehou vandat hy sy eerste paar sokkerskoene gekry het nie.
Maar nou, sê hy, lê daar vir hom 'n moeilike besluit voor: met watter kleur skoene moet ek op 'n spesifieke dag speel?
"Dalk een rooie en aan die ander voet 'n bloue? Miskien skiet ek net so akkuraat soos Portugal se Ronaldo."
Wilmer Gerber - en nie Wilber Gerber nie - van Stilbaai met die blou sokkerskoene wat hy vir Ronaldo gegee het. Ons vra om verskoning vir die spelfout Wilmer en wil weereens dankie sê vir jou mooi gebaar om 'n jong seun se droom te bewaarheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’