RIVERSDAL NUUS - Hessequa-inwoners moet op hul pasoppens wees vir veroordeelde misdadigers wat die afgelope twee maande op parool vrygelaat is.
Só waarsku sers. Christiaan Jansen, plaaslike polisiewoordvoerder, oor die potensiële gevaar wat dié klompie paroolgangers vir niksvermoedende inwoners inhou.
Hy sê onder hulle is verskeie booswigte wat tronk toe gestuur is omdat hulle mense voorlê en beroof. Baie van hulle is vonnisse van tussen een en drie jaar opgelê en is nou uit op parool en reeds weer druk besig om hul ou streke uit te haal.
Dis veral in Riversdal waar die klomp redelik bedrywig is en weer mense voorlê en beroof. "Veral inwoners van Aloeridge, Kwanokuthula en Riverville moet uiters versigtig wees, want dis hier waar die klomp kriminele op hul bedrywigste is," sê sers. Jansen.
"Die gewildste tye vir die rowers om toe te slaan, is tydens beurtkrag en natuurlik in die vroeë oggendure tussen 04:00 en 06:00 as die mense op pad is om te gaan werk.
Hy beveel aan dat mense dit ten alle koste moet probeer vermy om alleen in beboste gebiede te stap. "Probeer beweeg waar daar lig is en stap liewer saam met groepe mense as om die pad op jou eie aan te durf.
"Mense wat kortpaaie vat deur bosse maak dinge vir rowers baie makliker.
"Dis 'n gevaarsone en moet beslis nie alleen aangedurf word nie. Wag liewers totdat nog mense by jou kan aansluit as jy dan die kortpad deur bosse moet neem, maar nooit op jou eie nie. Dan soek jy mos vir moeilikheid."
Hy sê die veiligste is natuurlik om, indien jy dit het, eie vervoer te gebruik. "Maar as jy nie jou eie wiele het nie oorweeg dan liewers 'n taxi of enige tipe huurmotor om jou veilig na jou bestemming te neem."
Jansen versoek die publiek om enige inligting wat hulle het oor persone wat hulle skuldig maak aan dié tipe misdryf om die polisie te kontak op 10111 sodat hulle dit dadelik kan opvolg.
"Mense is baie keer bewus van die skelms se streke en weet waar hulle wegkruip. Soms is dit goeie kennisse of selfs familielede wat hulle hieraan skuldig maak. Wetsgehoorsame burgers behoort ons met inligting te help sodat ons die booswigte kan vastrek en aan die pen laat ry.
"Hulle is 'n gevaar vir die same-lewing en behoort agter tralies. Die hartseerste is dat dit hoofsaaklik die weerlose onder ons is wat deurloop onder die rowers."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’