Update
HEIDELBERG NUUS - Quinton Adams, boorling van Heidelberg wat as die Shackbuilder bekendstaan het Sondag, 6 Februarie by sy geboortedorp aangedoen om boumateriaal aan drie gesinne te skenk wat op 6 Januarie al hul besittings verloor het toe ’n vuur hulle houthuise tot op die grond afgebrand het.
Adams, wat nie net landswyd nie, maar ook wêreldwyd bekend is vir sy humanitêre bystand aan veral slagoffers van brande het materiaal vir ’n 3x6 meter hout- en sinkstruktuur aan die slagoffers verskaf.
Sy span Shackbuilders kon nie self die struktuur oprig nie, omdat hulle na Groot-Brakrivier onderweg was om daar ’n paar strukture op te rig.
Volgens Vennito van Niekerk, plaaslike opvoeder en gemeenskapsaktivis het hy en ’n paar ander inwoners met Adams in verbinding getree om die slagoffers te help. Van Niekerk het groot lof vir die mooi gebaar van sy rolmodel.
Lizel du Toit en haar saamleefmaat, Ben Mosokelo wat saam met twee ander gesinne die houtstrukture op die erf van haar oom, Freddy Jacobs en sy vrou, Roslyn in Joe Slovo Park deel, was dankbaar vir die skenking van Adams en sy span.
Persone wat ook belangstel om te help, kan Du Toit kontak (081 057 3279).
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'