HEIDELBERG NUUS - 'n Groepie van Heidel Senior Burgerklub onder leiding van die voorsitter, Marie Paige, is onlangs met geestelike musiek bederf.
Die Goosen-egpaar, Leon en Rietha, gospelsangers van Pretoria het vir die goue oues in die Duivenhoks-gemeenskapsaal opgetree.
Die egpaar tree landwyd op waar hulle veral probeer om vir senior burgers in elke dorp 'n gratis vertoning aan te bied.
Die vertoning is deur pastoor Mike Gosling van die plaaslike AGS Wes-kerk moontlik gemaak. Volgens Gosling is hy al jare met die Goosens bevriend en het hulle ook verlede jaar vir die inwoners van Huis Zenobia du Toit opgetree.
Volgens Leon is hy al 32 jaar in die bediening om die Evangelie deur musiek te versprei. Rietha, met wie hy 28 jaar getroud is, sing egter slegs die afgelope ses jaar saam met hom.
"Sy moes eers kinders grootmaak, maar nou is al twee volwasse en kan ons reis om die Woord te bedien," het Leon liefdevol vertel.
Volgens Paige het sy en die lede baie lekker tydens die vertoning saamgesing. "Dit was voorwaar 'n plesier om na hul geesgevulde musiek te luister en saam te sing."
Leon en Rietha Goosen saam met past. Mike Gosling. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'