STILBAAI NUUS - Die Soetfontein Senior Klub van Melkhoutfontein het Vrydag 3 Februarie die pad gevat Calitzdorp toe om te gaan druiwe pluk.
Volgens Christel Cloete was die uitstappie 'n reusesukses en vir sommige was dit hul eerste ervaring in 'n wingerd en dan nog om jou eie druiwe te pluk.
Die seniors het die wingerd ingevaar en heerlik gesmul en gepluk aan die stroopsoet hanepootdruiwe.
Dit het egter nie daar gebly nie, want die waatlemoene, spanspekke en sappige taaipitperskes asook die tuisgemaakte konfyt het gesmeek om gekoop te word. Nodeloos om te sê, die bus was gepak met al die lekkernye op pad terug Melkhoutfontein toe.
Die groep is ook vermaak deur die rieldansgroepie van Calitzdorp en dit het sommer die voete laat jeuk.
Albert Cloete, voorsitter van Soetfontein Senior Klub, het van die geleentheid gebruik gemaak om die busbestuurder van Suid-Kaap Busdienste, Colin Daries, te bedank omdat hy hulle veilig vervoer het.
Hy het ook Jagersbosch-dienssentrum bedank vir die goeie samewerking tussen Soeterus en die Senior Klub. Spar, Die Groentemark, Blombos Apteek, Lilliput, Stilbaai Slaghuis en Stables is ook uitgesonder vir hulle ondersteuning aan Soetfontein Senior Klub.
Albert het die res van die seniors in Melkhoutfontein aangemoedig om aan te sluit by die Senior Klub om sodoende deel te word van die res van die jaar se opwindende aktiwiteite.
Johanna Kleinhans besig om hanepoot te pluk.
Hansie Hill kies die beste trosse.
Lynette Fielies ontspan in die skaduwee na sy haar pluksel gekry het.
Sharon Davids moet strek om by die druiwe uit te kom.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'