HEIDELBERG NUUS - Die klub vir senior burgers op Heidelberg, Heidel, het Donderdag 24 Mei hul jaarvergadering gehou.
Die klub bestaan uit 50 senior burgers wat twee dae per week bymekaarkom om brei-, naald-, borduur- en ander handwerk te doen. Almal kry selfs die geleentheid om vaardighede met mekaar te deel.
Die warm truie, serpe, sokkies en veelkleurige kombersies wat hulle brei word vanjaar 18 Julie op Mandeladag aan behoeftiges in die gemeenskap geskenk.
Lede besoek weekliks die siekes en berei kospakkies vir behoeftiges voor. Hulle sorg selfs dat die oues in die gemeenskap aan niks tekort skiet nie.
Dié groep bestaan al sedert 2011 en het hierdie jaar besluit om hul bedrywighede verder uit te brei. Die voorsitter, Merle Paige, het gesê: "Ons het besluit om hierdie jaar mosaïek- en kralewerk by te leer. Ons wil ook seker maak dat die ouergeslag almal kan lees en skryf. Daar word van bejaardes verwag om hul naam te kan skryf vir AllPay."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'