HEIDELBERG NUUS - Die senior burgers van Heidelberg het op Donderdag 4 en Vrydag 5 Oktober hul deure vir die breë gemeenskap oopgemaak om tyd met hulle te kom deel en van hul handewerk te besigtig.
Vroue van ander instansies en besighede was na die geleentheid uitgenooi. Donderdagoggend het die trompoppies, bestaande uit die seniors self, uitgedos in hul groen uniforms reeds in gelid voor die gemeenskapsaal gestaan.
Die verrigtinge is deur Linda du Toit geopen, wat alle besoekers verwelkom het. Stigterslid Lisa Joubert het kortliks die eerste jaar se ontstaan van die seniorsklub aan die gaste verduidelik, waarna die klubvoorsitter, Merle Paige, die huidige prentjie aan almal geskilder het.
Die klub is meer as 50 lede sterk en is oop vir alle seniors wat gesonde samesyn verlang, iets aan die gemeenskap wil teruggee en terselfdertyd die geselskap van ander seniors wil geniet. Aktiwiteite sluit in handwerk van verskillende soorte soos hekel- en breiwerk (serpies, kombersies, tjalies, matjies en truie), materiaal- en glasskilder, asook mosaïekwerk.
Hierdie produkte, kospakkies en geldskenkings word dan onder behoeftiges in die gemeenskap uitgedeel. Die seniors besoek ook gereeld siekes en sorg dat oues in die gemeenskap nie alleen of verstote voel nie.
Die verrigtinge is Vrydag deur Slangrivier se senior burgers bygewoon. Die uitstalling van handwerk was in die biblioteeksaal waar besoekers dit kon besigtig en met die seniors self kon praat.
Daar was ook 'n spoegboek waardeur gaste kon blaai en waarin die klub se uitstappies, glansgeleenthede, sportprestasies en produkte besigtig kon word.
In die kombuis moes die seniors wat verantwoordelik was vir die verversings heeldag bontstaan om te sien dat almal iets te ete en te drinke kry. Die organiseerders meen die geleentheid het sy doel bereik en die vroue voel tevrede dat hulle bydrae tot 'n gesonde gemeenskapslewe nie ongesiens verbygaan nie.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'