HEIDELBERG NUUS - Gavin Riddles, oud-Heidelberger wat tans in Kraaifontein woonagtig is het sy belofte van 2018 nagekom toe hy leerders van Vondeling Primêre Skool met skoene en kouse verras het.
Dié keer het Riddles vir 21 leerders van Vondeling met genoemde items bederf. In 2018 het hy vir 10 leerders elk 'n paar skoene en kouse geskenk.
Volgens Riddles, wat self tydens sy laerskooldae die pad skool toe kaalvoet moes aandurf, het hy besluit om vanjaar ook 'n paar kleuters van Heidelberg met lekkernye te bederf.
Hy het vir die kleuters van Kleine Diamandjies-kleuterskool en Die Smurfs-speelgroep met vingerlek-lekker hoender en aartappelskyfies trakteer. Laasgenoemde skole is deur ao Alroy Windvogel, plaaslike polisiekommunikasiebeampte en sers Imorgene Hendricks identifiseer as begunstigdes vir die goeie gebaar.
Riddles het by elke groep 'n insiggewende praatjie met die kleuters, hul ouers en opvoeders gehou. Hy het 'n beroep op die ouers gedoen om hul kinders te beskerm en mooi op te pas. Verder het hy die opvoeders bedank vir hul bydrae tot die opvoeding van elke leerder.
Sy boodskap aan die leerders van Klein Diamandjies en Die Smurfs was dat hulle nie moet toelaat dat enigiemand hulle mishandel en veral nie vreemdelinge moet vertrou nie.
"As enigiemand jou ongemaklik of bang laat voel, moet jy sorg dat jy vinnig van hulle af wegkom of om hulp skree. Vertel dit onmiddellik vir jou ouers, onderwysers of enigiemand van jou familie," het hy benadruk.
Vondeling se prinsipaal,Zandra Davids, asook Petro Joseph en Beadricks Kalmashe van Kleine Diamandjies en Die Smurfs het hulle dank en waardering aan Riddles vir sy onbaatsugtige gebaar uitgespreek.
Die kleuters van Kleine Diamandjies-kleuterskool pronk met hul lekkernye wat hulle van Gavin Riddles (agter, derde van regs) ontvang het. By hom staan ao Alroy Windvogel, Samantha Roberts (opvoeder), sers Imorgene Hendricks en Charmaine Esau.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa, Heidelberg nuus'