Update
STILBAAI NUUS - 'n Wegbreekkans na 'n vakansiehuis op Stilbaai het vir die Retief-gesin van die Paarl tragies geëindig.
Die 76-jarige Nicol is op Saterdag, 8 Augustus oorlede na beserings wat hy tydens 'n fietsrit opgedoen het.
Hy het op Woensdag, 5 Augustus in die Geelkrans-natuurreservaat gaan ry. Sy vrou het egter bekommerd geraak toe hy baie lank wegbly en CapeNature se hulp ingeroep. Hulle het op hul beurt Stilbaai NSRI ook betrek en vier ure later is Retief in die reservaat opgespoor. Hy het 'n ernstige nekbesering in 'n val opgedoen.
Mediese beamptes van die NSRI het hom op die toneel gestabiliseer, waarna hy per ambulans na 'n hospitaal in Mosselbaai vervoer is. Hy is drie dae later in die hospitaal oorlede.
Retief was 'n bekende in mediakringe. Die Retief-familie was sedert 1938 aan die stuur van die koerant Paarl Post. Hy was saam met sy broer Lambert tot 2010 aktief in hul maatskappy Paarl Media Groep betrokke. Onder hul leiding het Paarl Media tot die grootste drukkery in die Suidelike Halfrond ontwikkel en is later as Novus Holdings genoteer.
Lambert is in 2017 aan kanker oorlede.
Vorige artikel: Voluit tot die einde
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'