HEIDELBERG NUUS - Sakelui is gefrustreerd omdat Eskom net 45 minute kennisgewing gegee het voor die krag vir 12 ure afgeskakel is.
Eskom het Woensdag 27 Februarie om 08:15 die gemeenskap van Heidelberg, Witsand en Slangrivier in kennis gestel het dat die elektrisiteitstoevoer vanaf 09:00 vir 12 ure lank af gaan wees.
"Ons is bitter gefrustreerd met Eskom," het Sue Gomes-Luis, eienaar van 'n supermark op Heidelberg, gesê. "Ons is baie bly dat hulle instandhouding doen, dis net wanneer en hoe dit gedoen word wat my baie pla. Dit voel of geen ag geneem word van die ekonomiese impak wanneer die krag afgeskakel word nie."
Sy meen voldoende kennisgewing sou die onderneming in staat gestel het om reëlings te tref. Volgens haar was Woensdag amper maandeinde en 'n baie besige dag, met deeg wat voorberei is vir brode en rolletjies en verskeie ander gebak, asook promosies wat reeds geadverteer is.
"Ons het al tienduisende rande se voorraad afgeskryf weens instandhoudingsprosesse wat verkeerd geloop het. Niemand wil die eise aanvaar nie – elke entiteit sê maar net dis die ander een se skuld."
Volgens Eskom het 'n brand in die Overberggebied 'n belangrike kraglyn (bekend as die Bacchus-Vryheid 132 kV-voerder) in die berge naby McGregor beskadig en noodherstelwerk moes dringend gedoen word. Die gebiede wat geraak is, was Bredasdorp, Struisbaai, Arniston, Klipdale en Heidelberg tussen 12:30 en 17:30, asook Swellendam, Klipdale, Bredasdorp, Riviersonderend, Buffelsjagrivier en Vryheid tussen 17:00 en 22:30.
Volgens Susan Geldenhuys, munisipale woordvoerder, het hulle geen beheer oor die implementering van Eskom se noodherstelwerk of beurtkragskedule nie, aangesien dit deur Eskom bestuur en gereguleer word.
"Die munisipaliteit is afhanklik van Eskom om volledige inligting te verskaf rakende onderbreking van kragvoer en die munisipaliteit deel dadelik die inligting op die munisipale webtuiste en Facebookblad."
Gomes-Luis het later gesê: "Hulle het die krag toe eers net voor 13:00 afgeskakel en weer 17:00 aangeskakel. As ons dit nie bevraagteken het nie, sou hulle dit sommer vir 12 ure afgesit het sonder om daaroor te dink.
"Ons wil beter samewerking van hulle kant af hê."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'