RIVERSDAL NUUS - Hanko Geldenhuys van Riversdal het Woensdag, 10 Maart ‘n mylpaal in sy musiekloopbaan bereik toe hy amptelik sy konsertstatus by die beroemde Drakensberg Seunskoor in KwaZulu-Natal verwerf het.
Hanko het sy musiekopleiding by Maggie Filmalter ontvang voor hy aan die begin van die jaar by die Drakensberg Seunskoor aangesluit het.
Hy is die eerste seun om vanjaar sy konsertstatus te kry. Voor ‘n nuwe Drakie (die bynaam vir ‘n seun in die koor) op die verhoog met die groot koor mag saamsing, moet hy eers ‘n uitmergelende reeks van 25 toetse slaag.
Die laaste toets behels dat ‘n seun, sonder enige hulp van buite, vir homself ‘n solo-lied moet aanleer wat hy dan voor die hele koor en musiekpersoneel moet sing. Hanko het Die berggans het ‘n veer laat val deur die ouditorium laat weerklink nadat hy dit binne twee dae aangeleer het.
Aan die begin van die koor se konsert op 10 Maart is sy konsertstatus aan hom toegeken en kon hy dus in die konsert sing.
Hanko se pa Kobus, asook drie van sy grootouers was daar om die geleentheid mee te maak. Hy het intussen ook sy Unisa-uitslae vir graad 3 gekry en het 94% vir sy prakties en 86% vir teorie behaal.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'