RIVERSDAL NUUS - Die Wes-Kaapse departement gesondheid het bevestig dat die Riversdal-kliniek en -hospitaal onder geweldige druk is.
Nadia Ferreira, kommunikasiebeampte het reageer op klagtes aan Suid-Kaap Forum dat pasiënte wat vir Covid-19 toetsing gaan, weggewys word.
“Die kliniek, soos baie ander hospitale in die provinsie, beide publieke en privaathospitale is onder geweldige druk weens personeel wat in isolasie of kwarantyn is.”
Ferreira het beklemtoon dat met die aantal personeel wat tans beskikbaar is, kan die kliniek net 'n sekere aantal toetse per dag doen.
“Ons fasiliteite het nie ‘n tekort aan toetstoestelle nie, maar ondervind ‘n toestroom van pasiënte wat vir Covid-19 getoets wil word, maar geen simptome het nie en dus nie aan die toetskriteria voldoen nie.”
Ferreira het gesê dit is egter vir die departement belangrik om almal wat simptome het, te toets. “Indien ‘n persoon versoek word om die volgende dag terug te kom, word hulle deeglik ingelig hoe om te kwarantyn en watter proses gevolg moet word.
“Indien ‘n pasiënt oor ‘n naweek Covid-19-simptome ontwikkel, vra ons dat hulle asseblief tuis bly en isoleer en dan Maandag na hul naaste kliniek vir ’n Covid-19-toets gaan. Mense moet slegs hospitaal toe gaan indien hulle noodsimptome ontwikkel, soos kortasem, sukkel om asem te haal, drukking op die borskas en deurmekaar is.”
Ferreira het gevra dat pasiënte nie die hospitaal of kliniek moet besoek om oor hul toetsuitslae navraag te doen nie. “Hulle moet tuis bly en isoleer. Hulle sal ’n SMS of oproep met hul toetsuitslae ontvang.”
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'