Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS - Die polisie en Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het Vrydag 9 Augustus 'n baie besondere Vrouedag in die Riverville-sportsaal aangebied.
"Ek bedank die gryskoppe wat vandag hier is dat hulle tussen 1948 en 1994 vasgebyt het, anders het ek nie vandag hier gestaan nie."
Dit was die kern van sers. Hans Busch, sektor 1-bestuurder van Riversdal-polisie tydens die Vrouedag-viering.
Jandrey Horn van Werk vir Vuur het ook sterk vroue soos sy ma daarvoor bedank dat hulle raakvat in hul huise en daarbuite.
Oud en jonk het aan prettige speletjies deelgeneem en heerlike eetgoed is voorgesit.
"Ons wou vir hulle die dag lekker maak sodat hulle vir 'n rukkie van swaarkry kan vergeet," het Beth Paine, voorsitter van die GPF gesê.
Tussendeur het sy die waarderende gehoor met haar goue stem bekoor. Marlene Farland, ondervoorsitter, het haar diep traumatiese ervaring as jong meisie met die vroue gedeel. Sy het hulle aangespoor om op hul regte te staan en hulp te soek.
Normalene Prins was die gelukkige een wat 'n gebedstoel en -rakkie ontvang het om Vrouedag vir haar spesiaal te maak.
Die meubels is deur Deon le Roux, 'n plaaslike sakeman, geskenk.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'