Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Riool wat in die Goukourivier beland het nadat die pompstasie in Vetterivierrylaan oorverhit het, het die week vir warm gesprekke op sosiale media gesorg.
Die Hessequa-munisipaliteit sê hulle het Maandag 8 Oktober, toe hulle van die probleem gehoor het, onmiddellik gereageer. 'n Kontrakteur en raadgewende ingenieurs is in kennis gestel, en die situasie is aangespreek. Volgens 'n munisipale persverklaring oor die aangeleentheid is "slegs 'n klein volume riool gestort, wat vinnig opgeruim is en die water is skoon, met geen kontaminasie nie".
Voorts is genoem dat die risiko dat toerusting kan faal altyd daar is, maar dat die munisipaliteit spoedig opgetree het. "Die bewering dat die minimale rioolstorting wat in Riversdal plaasgevind het, 'n gevaar vir die gemeenskap in Stilbaai teweeggebring het, is onwaar," het die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, gesê.
In 'n telefoniese onderhoud met Harold Basson, direkteur: tegniese dienste het hy aan Suid-Kaap Forum gesê dat die pomp sedert Saterdag die krag laat uitskop het, maar dat die voorman dit uurliks gemonitor het. Een van die werkers bly oorkant die pompstasie en die reaksietyd was dus nog vinniger om die krag te herstel.
Hy het self inspeksie gedoen en waar die riool in die rivier geloop het, is geen opsigtelike teken van besoedeling nie. "Ons nooi enige raadslid uit om die perseel saam met ons te besoek," het hy gesê.
Verskeie persone het op sosiale media hulle mening gelug. Sommige het die munisipaliteit se vinnige optrede geloof, maar ander het gesê mense word om die bos gelei en dat die riool reeds sedert Saterdag in die rivier loop.
Chris Taute, leier van die ANC-opposisie in die raad, het beskuldigings dat hulle klagtes bloot propaganda vir volgende jaar se verkiesing is, ontken. "...die publiek het by my gekla oor die riool wat in die rivier stort sedert Saterdag! Kan dit klein hoeveelhede wees tot vandag?" het hy gevra.
Kyk 'n video hieronder:
Die koerant het self die toneel besoek. Die gebied waar die riool van die pompstasie gevloei het tot by die rivier, was met 'n kalkagtige stof bestrooi, maar dit kan nie met sekerheid gesê word hoeveel riool gestort is nie. 'n Vrou wie se beeste in die omgewing gewei het, het egter aan die koerant gesê dat die riool wel sedert Saterdag na die rivier gevloei het omdat die beeste nie daar kon water drink nie.
Jacobs het gesê dat die opgradering van Riversdal se rioolwerke in fases uitgerol en oor 'n paar finansiële jare uitgevoer word.
"Die pompstasie ter sprake vorm deel van hierdie opgraderingsprojek. Die bewering dat R13 miljoen aan die kontrakteur betaal is en dat die werk nie voltooi is nie, is onwaar. Volle rekenskap kan van die voorsieningsproses en die geld wat deur die munisipaliteit spandeer is, gegee word."
Die water wat voorheen moontlik besoedel kon wees, is skoon, aldus die munisipaliteit.
Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'