Na maande se werk het Chris 'n replika van die Riversdal treinstasie en omliggende geboue onthul tydens 'n spesiale geleentheid met die Uitvoerende burgemeester, rdl. Emor Nel en wyksraadslede, dr. Joan Prins en rdl. Claassens as eregaste. Volgens Benadie het hy besluit om 'n replika van Riversdal stasie te bou nadat hy gesien het hoe die pragtige gebou wat uit 1936 dateer, besig is om te verval.
Met waardevolle insette en advies van Johan Le Grange van die Julius Gordon Africana Sentrum in Riversdal het die replika tot in die fynste besonderhede gestalte gekry om 'n kosbare stukkie van Riversdal se geskiedenis op perfekte skaal, weer te gee.
Benadie se droom is om die replika uit te stal in die regte omgewing, verkieslik die Stasiegebou self, sodat die stukkie geskiedenis nie verlore gaan vir Riversdal nie. Tans is die Riversdal stasiegebou, ou stalle, Riversdal se eerste reservoir, die ou kragstasie wat self 'n interessante geskiedenis het deel van die replika. Burgemeester Nel het genoem dat sy nog altyd die Riversdal Stasiegebou gesien as 'n toeriste attraksie.
Chris het hierna die groep vermaak met sy groot landskap replika met 'n hele paar treine wat tjoek-tjoek die verbeelding aangryp.

Chris Benadie, heel links saam met raadslede Joan Prins (wyk 3) en Phillip Claassens (wyk 1), Johan le Grange (Riversdal museum) , die Uitvoerende burgemeester, raadslid Emor Nel en Sheryldene Tarentaal (Stilbaai Toerisme),Vrydagmiddag tydens die onthulling van die replika van Riversdal treinstasie.
ARTIKEL EN FOTO'S: LOUISE MOUTON, SUID-KAAP FORUM-JOERNALIS