HESSEQUA NUUS - Volgens dr. Deon Begemann, voorsitter: Stilbaai Bewaringstrust en Stephan Lamprecht van Henque Waste Riversdal is herwinning die beste manier om die impak van rommel op die omgewing te versag:
“Elke jaar word dit duurder om huishoudelike afval na rommelhope te verwyder en te verwerk, beskikbare grond geskik vir stortingsterreine word minder en besoedeling van die omgewing word ernstiger. Dit maak dus sin om die volume afval drasties te verminder en die proses volhoubaar vir sowel die afvalverwerker as belastingbetalers te bestuur.”
Die enigste herwinningsaanleg vir huishoudelike afval in Hessequa is Henque Waste. Hulle laai dit weekliks in deurskynende sakke vanaf huise en besighede op, sorteer die verskillende materiale en berg dit in bale. Daarna word die afval na Kaapstad,
Springs of Empangeni vervoer om vir hergebruik gepulp of gesmelt te word. Ysterafval soos kos- en koeldrankblikke en selfs ou yskaste en stowe word deur ’n skrootysterfirma gekoop en die metaal word herwin.
Die sorteerders by die herwinningsmaatskappy is inwoners van Riversdal wat per gesorteerde materiaalsoort en gewig betaal word.
Wenke om die herwinningsproses te verbeter
• Bedryf twee afsonderlike vuilgoeddromme - een vir herwinbare afval en ’n ander een vir nie-herwinbare materiaal. Herwinbare rommel moet in deurskynende sakke geplaas word om die stelsel teen onaangename verrassings te beskerm. Dié sakke word gratis vervang wanneer ’n vol sak op vullisverwyderingsdag opgelaai word. Die swart en groen sakke met nie-herwinbare materiaal word deur Hessequa-munisipaliteit opgelaai en na stortingsterreine geneem vir invulling;
• Afval wat nie herwinbaar is nie sluit in tuinrommel, kosoorblyfsels, ou kookolie, vet, plastiek wat met bloed besoedel is en ou visaas. Elke item word met die hand gesorteer in ’n droë proses en daar is nie voorsiening in die fabriek om iets te was nie.
Herwinbare afval
• Papier, karton, boeke, tydskrifte, advertensies en tikpapier. Melk- en vrugtesaphouers met ’n blink voering is ook aanvaarbaar - spoel dit uit en druk plat. Papier en karton wat egter met olie of ou kos deurdrenk is, is nie herwinbaar nie. Pizza- en visverpakkings kan wel herwin word. Hoewel daar nie tans ’n mark vir sekere soorte papier is nie, sal die herwinner dit self uitsoek;
• Plastiekhouers met ’n nommer van een tot ses op die bodem gedruk, asook gewone plastieksakke en harde plastiekhouers;
• Polistireen, mits dit groot stukke uit verpakkingsmateriaal is. Dis moeilik ekonomies herwinbaar, omdat dit meestal uit lug bestaan. Die PET (nr. 1) houer waarin toebroodjies, vetkoek en vis verkoop word is nie herwinbaar nie, maar is in die proses om met ’n polipropileen produk, (PP nr. 5) wat wel herwin kan word, vervang te word;
• Alle glashouers is herwinbaar. Spoel egter die bottels uit voor jy dit in die sak plaas. By die fabriek word al die bottels deur ’n masjien in stukke gekap. By die smeltery word die verskillende kleure glas met ’n elektroniese oog en ’n stroom lug van mekaar geskei. Gebreekte ruite is moeilik herwinbaar omdat dit te hard is. Gebreekte glas kan in die herwinningsak geplaas word, maar verkieslik toegedraai in koerantpapier;
• Koeldrank- en kosblikkies, verkieslik uitgespoel met skottelgoedwater om skoon water te spaar en platgedruk. Leë aerosol- verf-, gif en kookolieblikkies is ook aanvaarbaar;
• Weggooibare babadoeke word nie in Riversdal aanvaar nie hoewel dit herwinbaar is, weens finansiële redes;
• Elektroniese afval, hoewel dit nie in die deurskynende sakke geplaas moet word nie. Daar is spesiale houers by die munisipale werkswinkels op elke dorp.
Kortom beteken dit alle materiaal wat nie nat is of uit voedselafval bestaan nie, kan herwin word.
Vir verdere navrae kan 082 552 5373 gedurende kantoorure geskakel word, of ’n SMS of WhatsApp na dieselfde nommer gestuur word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'