Die meerderheid van die informele huise in Eikeweg en Dollar Square is deur gietende reënwater oorstroom. Baie van die huise se vloere het meegegee en ingeval. Munisipale werkers het vragte sand en sandsakke aangery om die water te keer.
In Robertsweg het Cedric Plaatjies se huis erg deurgeloop. Volgens dié swaarvoertuig bestuurder was hy op die pad tydens die gure weer toe sy bure hom gebel en ingelig het dat sy huis oorstroom is. "Die matte, tapyte en 'n paar elektriese toestelle het in die slag gebly".
Die sterk wind het ook 'n huis se afdak in Aalwynlaan, asook 'n houtstruktuur se dak by 'n bekende restaurant afgeruk. Tydens Suid-Kaap FORUM se besoek in Eikeweg, was wyksraadslid Annelene Hartnick besig om 'n opname van die omvang van die skade van die inwoners op te neem. Baie ander strate in Joe Slovo Park was ook oorspoel.
Twee van die munisipale rampbestuur werkers, Lelieza Michaels en Francois Bayman, het in Dollar Square 39 komberse en ses kospakkies aan die inwoners wat die ergste getref is, geskenk.

Cedric Plaatjies van Robertsweg besig om sy kombuis op te droog. Inlas: Die tapyte wat beskadig is.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'