STILBAAI NUUS - Radio Fynbos sorg dat mense wêreldwyd kan inskakel en op hoogte bly van wat in hierdie pragtige dorp gebeur.
Marco Olivier het gedurende Covid in 2021 die aanlynradiostasie begin en in Desember 2022 het Nadia en Adriaan Rabie die stasie oorgeneem. Nadia sê dat daar soveel hartseer in die wêreld is en die nuus gaan net oor moord, doodslag en ander negatiewe dinge.
Hulle wil dit wat goed is uit die omgewing voorbladnuus maak en mense moet weet dat daar nog iets goeds is.
Deur middel van onderhoude met interessante mense, musiek vir elke moontlike smaak en musiekspeletjies wil hulle die positiewe uitlig en mense net laat vergeet van al die pyn en hartseer. Hessequa-munisipaliteit gaan een keer per maand die geleentheid hê om interessante inligting met die luisteraars te deel en Nadia sê dat hulle goeie diens in Hessequa gaan bemark.
Duidelik het Radio Fynbos groot planne, maar soos vir die res van Suid-Afrika het beurtkrag 'n groot invloed op hulle werksaamhede. 'n Radiostasie se toerusting kan nie net aan- en afgeskakel word nie en hulle is dus in die proses om solarkrag te installeer om hierdie probleem te oorkom.
Hul ateljee is in Stilbaai, maar hulle het ook 'n karavaan wat hulle gebruik as hulle buite-uitsendings het op plekke soos die Brugmark in Stilbaai en ander groot sport- en sosiale geleenthede.
Alhoewel die inhoud gaan oor die gemeenskap kan mense wêreldwyd inskakel. Nadia sê dat hulle al van snaakse plekke af boodskappe gekry het.
Om in te skakel kan jy die Radio Garden-toep aflaai wat jou in staat stel om by enige radiostasie in te skakel. Hulle is ook op Facebook en die aanlynwebwerf is Radio Fynbos.
Hierdie is voorwaar die ideale medium om Stilbaai te bemark, maar ook vir diegene met vakansiehuise op die dorp en vakansiegangers om op hoogte te bly van die aktiwiteite in en om Stilbaai.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’