Update Video
ALBERTINIA NUUS EN VIDEO - Die plaaslike biblioteek spog nou met agt rekenaars wat met gemak geakkomodeer kon word te danke aan rdl. Ivan Mangaliso wat sy kantoor vir dié doel afgestaan het.
Mangaliso het na 'n veel kleiner kantoor geskuif om vir die rekenaars plek te maak. Die uitbreiding van Protea-biblioteek se rekenaarafdeling is amptelik op Donderdag 19 September geopen.
Die biblioteek het sy naam te danke aan die pragtige proteas wat in die omgewing groei en dui op die betrokkenheid van die gemeenskap. Dit is in Maart 1988 met 'n ledetal van 700 geopen. Vandag is daar 1 415 geregistreerde gebruikers (652 kinders en 763 volwassenes). In 1988 het die biblioteek 5 000 stukke biblioteekmateriaal gehuisves teenoor die 11 297 vandag.
In Augustus is die rekenaars deur 341 persone - hoofsaaklik leerders vir take en huiswerk en volwasse gebuikers vir CV's en sosiale media gebruik.
Vir baie jare het die biblioteek slegs oor 'n bibliotekaris beskik. Deesdae is daar buiten die bibliotekaris, Eleanor Pieterse en haar assistent, Roshanda Terblanche ook twee aflospersoneel, Vivian Daries en Jo-lynn Tarentaal wat bydra om 'n doeltreffende diens aan die gemeenskap te lewer.
Kyk 'n video hieronder:
Leerders van Hoërskool Albertinia se sang en die Smiling Ducks-kleuterskool se opvoerings het die gaste tydens die geleentheid vermaak. Marina Griesel, direkteur: Korporatiewe Bestuur van die munisipaliteit, het almal verwelkom en rdl. Ben Smith het die agtergrond en groei van die biblioteek in perspektief gestel.
Mangaliso het die bedankings behartig en veral vir Ursula Oosthuizen uitgesonder vir haar deursettingsvermoë om die projek deur te voer.
Lees 'n vorige artikel: Raadslid staan kantoor af vir goeie doel
'Ons bring jou die nuutste Albertinia, Hessequa nuus'