RIVERSDAL NUUS - As deel van PathCare se 100ste bestaansjaar en ook Mandeladagvierings het hierdie organisasie besluit om betrokke te raak met 'n Dare-to-Care-inisiatief.
Die idee was dat elke laboratorium en depot 'n omgeeprojek of plaaslike inisiatief vind om te ondersteun.
'n Klein begroting is beskikbaar gestel sodat elke area iets het om mee te begin, van bloedskenk, bome plant tot sop of toebroodjies voorberei.
Riversdal se plaaslike tak het die geleentheid gebruik om heerlike hoendersop en broodjies te verkoop teen 'n klein fooi sodat hulle die geld wat daarmee ingevorder word, kan skenk aan 'n nie-winsgewende organisasie.
Susan Snyman, takbestuurder van hierdie tak, het dit goedgedink om 'n skenking aan Sandra Lotz van CARS te skenk, wat daagliks 'n stryd het met kostes om diere te voed en te help.
'n Bedrag van R6 840 is ingesamel met die verkope en skenkings asook 10 geskenkbewyse vir inentings by Riversdal Dierekliniek. Die kontant en geskenkbewyse is Donderdag 13 Julie aan Lotz oorhandig. Enige donasies wat na die tyd sou inkom, is ook op 18 Julie oorhandig.
Sandra Lotz (links) het breed geglimlag toe Susan Snyman (regs) die tjek van R6 840 aan CARS oorhandig het.
Snyman bedank graag al die donateurs:
HC Snyman Boumateriale, Jack's Paint & Hardware, Stihl, Riversdal Mediese Praktisyns, Prime Renevators, One Ditch, Riversdal Apteek, Water Zone, Riversdal SuperSpar, Joubert Oogkundiges, Riversdal Dierekliniek en Jackson's Motoronderdele.
"Sonder elkeen se deel in hierdie projek, sou dit nie moontlik wees nie," het sy beklemtoon.
Shaun Marcus (links), van HC Snyman Boumateriale help vir Susan Snyman (regs) met die sop en toebroodjies.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’