HEIDELBERG NUUS - Bykans 50 opvoeders van vier skole in die Heidelberg-distrik, naamlik De Waalville Primêr, Kairos Senior Sekondêr, Hoërskool Heidelberg asook Vondeling Primêr, het onlangs 'n innoverende motiveringspraatjie van prof. Jonathan Jansen, gewese rektor van die Universiteit Vrystaat, in Kairos se skoolsaal bygewoon.
Jacques Nel, skoolhoof van Hoërskool Heidelberg, het die verrigtinge geopen waarna Trevor Februarie, waarnemende prinsipaal van Kairos, die verwelkoming behartig het.
Ralph Jacobs, De Waalville se skoolhoof, het 'n kort dog indrukwekkende oorsig van prof. Jansen gegee voordat hy met sy voorlegging begin het.
Tydens sy insiggewende, en soms humoristiese voorlegging, het prof. Jansen sewe belangrike knelpunte met sy gehoor gedeel wat hulle in die praktyk kan toepas om 'n veel beter omgewing en uitkoms aan hul produk - die leerders te verskaf.
Die sewe punte is as volg:
1. Kinders is die betroubare veranderlikes. (Kry dit en alles verander).
2. Daar is absoluut geen verskil in leerpotensiaal tussen 'n kind in 'n swak (behoeftige) skool en 'n kind in 'n welgestelde skool nie.
3. Een van die hoofredes vir onderprestasie in skole is 'n tekort aan entoesiasme onder opvoeders en leiers.
4. As jy jouself as 'n slagoffer van een of ander onreg beskou, is die enigste wat sal ly, die kinders.
5. Geen skool verander sy leerprestasie sonder die dryfkrag van leierskap (hoof en onderwysleierskap)
6. Om werklik belangstelling in leer aan te wakker, moet jy die onderwerp meer lewendig maak as net onderwyserpraatjies.
7. Die enkele belangrikste rolspeler in goeie leeruitkomste is die optimale gebruik van toegekende onderrigtyd.
Jansen het ook voor sy praatjie 'n besoek by De Waalville afgelê waar hy samesprekings met Vennito van Niekerk, opvoeder by De Waalville en 'n plaaslike gemeenskapsaktivis, en Arlynne Fielies, voormalige leerder van Hoërskool Heidelberg en tans verbonde aan die Universiteit Stellenbosch, gevoer het.
Zandra Davids, hoof van Vondeling Primêr, het die bedankings gedoen.
Die groep opvoeders van skole in die Heidelberg-streek wat die motiveringspraatjie van prof. Jonathan Jansen (voor derde van links) bygewoon het. Voor saam met Jansen van links is Arlynn Fielies (US), Jul-Mir Geldenhuys (WKOD-vakadviseur), Zandra Davids (hoof Vondeling Primêr), Jacques Nel (hoof Hoërskool Heidelberg), Ralph Jacobs (hoof De Waalville Primêr) en Trevor Februarie (waarnemende hoof: Kairos Senior Sekondêr). Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'