Update
SLANGRIVIER NUUS - Een van Slangrivier se boorlinge en seun van 'n voormalige wyksraadslid, Desmond Esau het Sondag, 13 September in die vroeë oggendure 'n grusame ongeluk wonderbaarlik oorleef.
Grandhal Esau, nou in Paarl woonagtig en wat in Bellville-Suid as sersant gestasioneer is, was Sondagoggend ongeveer 02:15 op die N1 Brackenfell op pad huistoe.
'n Volkswagen Polo het in die verkeerde rigting met die polisievoertuig, waarvan Esau die enigste insittende was, trompop gebots. Dit het naby die Okavango-afrit gebeur.
Esau is met ernstige kopbeserings in die Vincent Palloti-hospitaal opgeneem. Volgens sy vrou, Diandra wat ook 'n polisielid is, was Esau Maandag nog bietjie deurmekaar, maar dat hy teen Dinsdag uit die intensiewe eenheid na 'n gewone saal geskuif sou word.
Die 30-jarige bestuurder van die Polo is in die hospitaal opgeneem, maar 'n vroulike passasier het aan haar beserings beswyk.
Luitenant-kolonel André Traut, provinsiale kommunikasiebeampte het gesê dat die bestuurder onder polisiebewaking in die hospitaal aangehou word. Aanklagte van strafbare manslag en dronkbestuur word teen hom ondersoek.
Die wrak van die polisie-voertuig. Foto's verskaf
Vorige artikel: Polisielid oorleef ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'