Update
RIVERSDAL NUUS - Dr. Vicky van Wyk, plaaslike geneesheer is deur die Jack Simons ANC-tak in Riversdal vir sy positiewe bydrae vereer tot die opheffing op vele gebiede van die gemeenskap.
Die spoggeleentheid het in die burgersentrum plaasgevind en is dit deur rdl. Chris Taute, leier van die amptelike opposisie in die stadsraad toegeken. Van Wyk is reeds 50 jaar 'n mediese dokter en praktiseer hy die afgelope 40 jaar as geneesheer op Riversdal.
Die motivering vir die toekenning lui soos volg: 'Sy gemeenskapsbetrokkenheid is welbekend, as munisipale raadslid en later as burgemeester was sy bydrae enorm tot die vooruitgang van sy geliefde dorp. Tydens sy termyn as burgemeester het die dorp sy 150ste bestaansjaar gevier (1988), De Miststraat-swembad geopen, Riverville-rugbystadion gebou en voltooi, verskeie woonbuurte geteer, Aloeridge-woonbuurt se huise het elektrisiteit ontvang en voorafbetaalde elektriese meters is by woonhuise geïnstalleer.
'As mediese dokter was hy mediese superintendent van Riversdal-hospitaal, hy was altyd gewillig om tuisbesoeke by pasiënte te doen en word bejaarde pasiënte dikwels teen 'n verminderde tarief bedien. Agter elke suksesvolle eggenoot staan 'n eggenote wat haar man stilweg ondersteun, Wilma van Wyk is die stille krag agter haar man.'
Die welverdiende erkenning is 'n pluimpie vir die ANC, wat met die geleentheid verskeie gemeenskapslede vereer het vir hul positiewe bydrae tot die vooruitgang tot die dorp en samelewing.
Lees 'n vorige artikel hier: Plaaslike geneesheer word vereer.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'