Gallery Update
HEIDELBERG NUUS - Dis seker elke kleuter wat in 'n dorps- of stadsgebied woon se droom om eendag op 'n plaas te kan kuier.
Nagenoeg 40 kleuters van Kleine Pikkewyne-kleuterskool se droom is Donderdag 1 Augustus bewaarheid toe hulle 'n besoek aan die plaas Mierfontein gebring het.
Die kleuters is onder deur skoolhoof Dottie Page en hul opvoeders na die plaas vergesel waar hulle eerstehands met die plaasdiere kennis gemaak het. Hulle het ook gesien waarmee plaaseienaar Annatjie Keyser en haar werkers hulle besig hou.
Hulle het al wat 'n plaasdier is besigtig en elke oomblik terdeë geniet. Keyser het hulle op 'n toer deur die plaas geneem en verduidelik wat elke dier se rol is, asook wat die werkers se pligte om na die diere om te sien behels. Hulle is aan hoenders, ganse, eende, beeste, varke en skape blootgestel.
Twee hoogtepunte was hul besoeke aan die melkstalle waar hulle gesien het hoe die koeie gemelk word en waar hulle hul emmertjies met melk gevul het. Later het hulle ook gesien hoe skape geskeer word.
Volgens Page was dit 'n leersame besoek en die kleuters kon die volgende dag by die skool nie uitgepraat raak oor die uitstappie nie. Sy spreek hul opregte dank teenoor Keyser en die buseienaar wat hulle na die plaas vervoer het, uit.
Read a previous article here: Pikkewyne kuier by plaasdiere
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'