Update
STILBAAI NUUS - Pikkewouter-kleuterskool in Stilbaai se jaarlikse potjiekoskompetisie was weereens 'n reusesukses.
Nie eers die harde reënbuie kon die geesdrif demp nie en terwyl die kinders binne die gemeenskapsaal speletjies gespeel en buite op die spring-kastele kerjakker het, het die ernstige potjiekenners hul voorbereiding gedoen.
Die terrein langs die gemeenskapsaal is in 'n potjiewonderland omskep en by elke gazebo het die vure vroegdag al hoog gebrand. Elke kok het sy, dikwels geheime, resep uitgehaal en versigtig die bestanddele afgemeet om die wenpotjie te maak.
Daar was kerriepotte, hoender- en water-blommetjiepotte, skaap- en beesstert-potte, te veel om op te noem.
Die heerlike geure het jou getrek van stalletjie tot stalletjie met die hoop dat jy sal kan proe of ten minste net kan wegstap met die geheime resep.
Die doel van die dag was egter om op 'n lekker gesellige manier geld in te samel vir Pikkewouter-kleuterskool en hierin het hulle geslaag. Die hoof, Suanie Oberholzer, sê die ondersteuning van besighede en die gemeenskap was ongelooflik.
Die ouerkomitee en ouers het ingeklim om die dag te organiseer en het hard gewerk om dit suksesvol te maak. Sy wil elkeen uit die diepte van haar hart daarvoor bedank.
Lourens Botha (links) met sy vrou, Karlien, seun Wesley, en broerskind Lanie, het die kampeerwa op bystand teen die elemente.
Fynbos Apteek se Lizette Gerber en Willie Delport bou die lae van smaak.
Foto's: Johan Victor
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'