Hella Döckel het die oorhandiging namens die Heese familie behartig, asook 'n kort lewenskets gedeel met lede van die Riversdal Boekklub en die uitvoerende burgemeester van Hessequa, rdl Emor Nel wat die spesiale geleentheid bygewoon het.
Dié skildery van Petersen is deur 'n vriend van hom (vermoedelik Francois Krige, broer van Uys Krige) geskilder en het hy dit aan Hans Heese as geskenk oorhandig, tesame met 'n manuskrip van sy ongepubliseerde gedigte.
'n Voorlesing van Aand op Riversdal uit Petersen se pen is ook voorgelees.
Dank en waardering is namens die biblioteek uitgespreek vir hierdie stukkie geskiedenis wat 'n huis kom vind het aan die voet van die Slapende Skoonheid.
Sydney Vennet (SV) Petersen is op 22 Junie 1914 gebore op Riversdal en in die Lutherse Kerk op die dorp gedoop. Hy sterf in 1987 in die ouderdom van 73 en laat sy vrou Mavis en een seun, Sydney agter.
Hy en Hans Heese se vriendskap het in die vroeë tagtigerjare begin toe Heese hom toevallig by die Universiteit van die Wes-Kaap ontmoet het. "Toe hy hoor dat ek 'n Heese is, was sy onmiddelike kommentaar dat ons dan familie is; geestelike familie!".
Tydens sy roudiens in Kaapstad is genoem dat een van sy grootste bates sy nederigheid was, dat dit vir hom belangrik was om onbelangrik te wees en was hy ook 'n diepgelowige Christen.
Hy het voortreflike prestasies op opvoedkundige en skryfgebied behaal en het die gesogte Hertzogprys vir sy boek, 'As die son ondergaan', ontvang.
Hy het ook in 1987 ereburgerskap van Riversdal ontvang en is seker een van dié bekendste digters wat die dorp opgelewer het.
Petersen word gesien as 'n baanbreker, die eerste van nie-blanke skrywers wat naam gemaak en die weg oopgemaak het vir groot skrywers soos Adam Small.
Die Petersens was bekende inwoners op Riversdal en het verskeie eiendomme besit. Sy pa, ook Sydney, het as bekende tuiemaker gewerk en sy ma was bekend vir haar vars brood, asook hout wat sy verkoop het.

Hella Döckel van Stilbaai saam met rdl Emor Nel tydens die oorhandiging.
ARTIKEL EN FOTO: WILMA ADAMSON, SUID-KAAP FORUM-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'