STILBAAI NUUS - Padeia Onderrigsentrum in Stilbaai het Huis Stilbaai se inwoners Woensdag 13 September met geskenk-pakkies en lekkers bederf.
Volgens die hoof, Alichea Botha, het hulle besluit om hulle jaarlikse uitreik hierdie jaar met 'n besoek aan Huis Stilbaai te doen.
Dit is vir hulle 'n voorreg om dit te kan doen en hulle wil bietjie terugploeg na die inwoners om dankie te sê vir wat hulle beteken het vir die gemeenskap in hul jonger dae.
Die kleine Mia Botha het met haar pienk kitaartjie drie liedjies gesing waarna die 31 leerders ook vir die inwoners gesing het. Die leerders het geskenkpakkies en mooi kaartjies, wat hulle self gemaak het, aan al die inwoners teenwoordig uitgedeel.
Die leerders en inwoners het die oggend afgesluit met samesang. Hierdie pragtige gebaar van Padeia het sommer heelwat glimlagte op die gesigte van die inwoners gelaat en hulle was duidelik beïndruk met die kinders se mooi geaardhede, hul hoflikheid en vriendelikheid.
Die leerders van Padeia voor Huis Stilbaai.
Padeia beteken "kultuur van onderrig" en die sentrum bestaan al sowat twee jaar. Hulle bied tans kursusse aan van gr. 3 tot gr. 12, maar Alichea sê dat hulle vanaf 2024 ook die kleiner grade gaan byvoeg.
Die sentrum volg die Cambridge International Programme en berei die kinders voor om enige plek in die wêreld te kan gaan werk.
Die ses leerkragte is goed opgewasse vir hulle taak en daar is 'n duidelike band tussen hulle en die leerders.
Esther du Preez (met blom op mus) en haar man die oud-Springbok Jan du Preez langs haar.
Tannie Maxi du Plooy, bekende skilder, gesels met Alichea Botha.
Mia Botha sing vir die inwoners. Regs staan haar ma, Alichea Botha.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’