SLANGRIVIER NUUS - 'n Pa van vier kinders is noodlottig beseer toe hy in die nek met 'n mes gesteek is.
Die oorledene, Heinrich Blaauw (35) was 'n boorling van Mosselbaai, maar was vir die afgelope 12 jaar in Slangrivier woonagtig.
Hy en sy 24-jarige vriend was glo Saterdagaand, 14 Augustus in 'n stryery betrokke wat tot 'n messtekery gelei het.
Die voorval het in Hoofweg tussen 19:00 en 19:30 gebeur. Die oorledene is op die rivierwal gevind.
Die beskuldigde, wat 'n steekwond in een van sy longe opgedoen het, is van die toneel na Riversdal-hospitaal vervoer. Hy was na behandeling onder polisiebewaking ontslaan, maar is vroeg Sondagoggend weer hospitaal toe geneem na hy van erge pyn gekla het.
Volgens die polisie sal hy vir 72 uur onder mediese toesig wees. 'n Klag van moord word ondersoek.
Die oorledene word deur past Jaftha Februarie van die Christen Gemeentekerk as 'n begaafde jong man met vele vaardighede beskryf. Blaauw het glo as entrepreneur verskeie van sy vaardighede tot diens gestel.
Hy was veral bekend vir sy vaardigheid as rekenaartegnikus in die Heidelberg/Slangrivierdistrik.
Blaauw laat drie seuns, 'n dogter, sy ma, asook twee broers en twee susters agter.
Begrafnisreëlings was nog nie bekend nie, maar sy familie het bevestig dat dit in Mosselbaai sal wees.
'Ons bring jou die nuutste Slangrivier, Hessequa nuus'